Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus besoek landbouprojekte te Harrismith en Vrede

Die Vryheidsfront Plus is genoodsaak om die toestand van diere by die Vrede-suiwelprojek by die DBV aan te meld. Die VF Plus is uiters bekommerd oor die feit dat die provinsiale regering alle hulpmiddels aan die landbouprojekte verskaf, maar dat dit blyk dat die projekte nie volhoubaar is indien die regering hulpbronne onttrek nie. Indien die projek met enige ander boerdery vergelyk word, is dit duidelik dat oorkapitalisering plaasgevind het, soos byvoorbeeld moderne sokkervelde, skole en behuising wat vir plaasbewoners gebou is met geplaveide strate tussen die plaashuise.

Die VF Plus se Vrystaatse leier, Jan van Niekerk en raadslid Koos Pienaar, voormalige voorsitter van die Melkprodusente Organisasie (MPO), het landbouprojekte in die Harrismith- en Vrede-distrik besoek om vas te stel wat die stand daarvan is en of dit volhoubaar en suksesvol bedryf word.

Gedurende die besoek is gevind dat twee melkplase naby Harrismith, naamlik Maluti en Jisrael-melkprojekte nie meer produktief bedryf word nie, alhoewel die provinsiale regering miljoene rande in die projekte gestort het. Tydens die besoek aan Diatalawa-landbouprojek is onder andere gevind, dat alhoewel die regering 60 koeie in melkproduksie aan die projek geskenk het, slegs 30 Ayrshire koeie tans in produksie is.

Die VF Plus was beïndruk met die feit dat sommige van die melkery se begunstigdes duidelik die wil het om van die projek ‘n sukses te maak, maar nie oor die finansiële kennis beskik nie. Die begunstigdes deel die bekommernis van die VF Plus van wat sou word as die provinsiale regering sy hulpbronne sal verminder of onttrek. ‘n Verdere bron van kommer is dat een van die begunstigdes 50 hoenders ontvang het, dit alreeds ‘n geruime tyd terug geslag is en die spesifieke begunstigde nie meer hoenders aangekoop het om sodoende sy boerdery uit te brei nie, aangesien dit volgens hom nie winsgewend is nie.

Dit kom neer op ‘n vermorsing van belastingbetalersgeld, aangesien hierdie projekte nie volhoubaar is nie.

Tydens van Niekerk se besoek aan die Vrede-melkprojek, was die eerste indrukke indrukwekkend totdat bestedingsyfers aan die fisiese infrastruktuur gekoppel is. Dit is duidelik dat iemand deur belastingbetalersgeld verryk is en dat fondse buitensporig spandeer is. Die VF Plus is uiters besorg oor die feit dat beide bestuurders van die projek individue uit Indië is wat verdere vraagtekens laat ontstaan oor die moontlike betrokkenheid van die Gupta-familie en die feit dat Suid-Afrikaners eerder by hierdie projek as bestuurders moes baat.

Die VF Plus wil eerder sien dat die regering opkomende boere help, om sodoende volhoubaar te boer, tot die ekonomie by te dra en voedsel te produseer, as om dit op die huidige model te doen waar peperduur infrastruktuur en hulpmiddels nie gaan bydra dat hierdie projekte uiteindelik onafhanklik kan funksioneer nie.

In die huidige moeilike ekonomiese tydperk wat Suid-Afrika beleef, is dit uiters onverantwoordelik om buitensporige bedrae op projekte soos hierdie te bestee.

 

JAN VAN NIEKERK

(083 743 2042)

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.