Op een dag het die ANC twee geweldige terugslae tot voordeel van demokrasie in Suid-Afrika beleef. Suid-Afrika kan nie vir veel langer die tirannie van die ANC se magsmisbruik oorleef nie.
Die Suid-Gauteng Hooggeregshof het vandag uitspraak gelewer dat Zwelinzima Vavi se skorsing as Sekretaris-generaal van Cosatu ter syde gestel moet word. Ook het dieselfde hof vandag in 'n ander saak bevind dat die redelike man se gevolgtrekking na aanleiding van die Openbare Beskermer se verslag is dat Nkandla wel as geld-steel beskryf kan word.
Volgens dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, bied hierdie twee uitsprake daadwerklik die geleentheid om die ANC te ontbloot vir dit wat hul werklik is en vir die kieser om werklik 'n beter toekoms vir Suid-Afrika op 7 Mei te beslis.
Die herinstel van Vavi as die Sekretaris-generaal van Cosatu gaan beslis die krake in die ANC en Cosatu se alliansie ontbloot. Daar is nou 'n besliste moontlikheid dat Cosatu kan skeur of selfs dat Cosatu met 'n meerderheid besluit om nie meer die ANC te steun nie. Dit het alles ingrypende implikasies vir die ANC wat in die vroeë negentigerjare sy party tot 'n groot mate op die strukture van Cosatu gebou het.
Mulder meen dat die kiesers van Suid-Afrika moet kennis neem van hierdie geleentheid wat daar nou bestaan om die ANC te verswak en 'n einde aan hul tirannie te bring. Die kieser moet stem vir 'n daadwerklike alternatief, soos die VF Plus wat in 'n koalisie met ander opposisiepartye sal saamwerk om die ANC uit die regering te hou.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403