Die VF Plus het ’n konstruktiewe vergadering gefasiliteer tussen die adjunk-burgemeester van die Tshwane-metroraad, Eugene Modise, en die direksie van Kleinfontein Aandeleblok (Edms.) Bpk.
Die gesprek, waar Kleinfontein se amptelik verkose voorsitter, Rian Genis, en die ondervoorsitter, Dannie de Beer, teenwoordig was, het in ’n positiewe en samewerkende gees plaasgevind.
Alle partye het saamgestem dat ʼn sinvolle oplossing gevind moet en kan word om die Kleinfontein-kwessie te besleg, waar die metro buitensporige eiendomsbelasting op die nedersetting gehef het, terwyl feitlik alle dienste self gelewer word.
Hierdie benadering kan ook dien as ’n bloudruk vir die aanspreek en formalisering van die 16 ander sogenaamde onwettige nedersettings in Tshwane.
Tydens die gesprek is dit uitgelig dat ’n vorige afvaardiging, wat beweer het dat hulle Kleinfontein verteenwoordig, nie die wettige mandaat van die gemeenskap gehad het nie en dat sommige persone in werklikheid ontevrede inwoners was wat die hof genader het.
Die hofaansoek het daartoe gelei het dat ’n uitspraak ook teen die metro gemaak is.
Gister (Donderdag) se ontmoeting het die weg gebaan vir hernude dialoog met die regmatig verkose leierskap van Kleinfontein.
Daar is ooreengekom dat ’n gesprek belê sal word waaraan die stad se regspan, die stadsbestuurder, die betrokke amptenare, die adjunk-burgemeester, die VF Plus se koukusleier, die wettig verkose verteenwoordigers van Kleinfontein en sy regspan sal deelneem.
Hierdie inklusiewe proses het dit ten doel om deursigtigheid, billikheid en ’n volhoubare oplossing te verseker.
Kleinfontein se raad van direkteure het reeds in September vanjaar weer ’n formele voorstel aan die metro voorgelê, waarin ’n praktiese pad vorentoe vervat is om die saak buite die hof te besleg.
Só ’n benadering sal aansienlike openbare fondse bespaar, sekuriteit en stabiliteit aan die inwoners van Kleinfontein bied, en moontlik ook verligting bring aan die inwoners van die ander 16 nedersettings wat ter sprake is.
Die VF Plus verwelkom hierdie deurbraak en bly verbind tot die fasilitering van beginselvaste, statutêr-nakomende oplossings wat gemeenskappe se waardigheid herstel en terselfdertyd die munisipale integriteit beskerm.


