Misdaad kan net gedy in ‘n land waar ampsdraers wat op hoogste vlak die publiek teen misdadigers moet beskerm, self betrokke is by van die land se grootste misdaadsindikate.
‘n Verslag van die Instituut vir Sekerheidstudies vandag toon dat net 22% Suid-Afrikaners die polisie nog vertrou.
Boonop skep misdaadstatistieke toenemend onsekerheid oor misdaad aangesien daar ook groeiende onsekerheid is oor die akkuraatheid daarvan.
Die statistieke wat die polisie vandag uitgereik het en wat in baie gevalle ‘n daling toon in die kwartaal van Julie tot September teenoor April tot Junie vanjaar, moet daarom versigtig optimisties benader word.
Die publiek se vertroue in die polisie sal sonder twyfel verder daal soos wat die onthullings voor die Madlanga-kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee aan die lig kom.
Dit laat die vraag waarheen die misdaadvoos publiek hom moet wend as die wagters self in die beskuldigdebank staan.
Waarom sal ‘n konstabel of sersant omkoopgeld van die hand wys as sy minister en adjunk-nasionale kommissaris dit na bewering aanvaar? Moraliteit van die polisie is op die hoogste vlak vernietig.
Die polisie se onderskeie afdelings staar groot uitdagings in die gesig, veral weens begrotingsbeperkings, personeeltekorte, swak hulpbronne, onkundigheid in spesialisgebiede, werkoorlading en ‘n gebrek aan motivering.
Uit jaarverslae van die polisie blyk die volgende:
Forensiese dienste: Oorlaaide laboratoriums het ‘n agterstand van 33% in DNA-analises. Dit het ‘n wesenlike, nadelige invloed op vervolgings.
Die speurdiens behaal slegs 43% van sy teikens. Daar was daar ‘n verlies van meer as 8 400 ervare speurders sedert 2016. Oorwerkte speurders sit in baie gevalle met honderde sake.
Misdaadintelligensie se tekortkominge is ‘n groeiende en bekende probleem en getuienis voor die Madlanga-kommissie laat ernstige vrae oor dié eenheid.
Die misdaadrekordsentrum het ‘n lae prestasie in data-verwerking wat vererger word deur probleme met forensiese ondersteuning.
Op grondvlak is die grootste uitdagings ‘n ou voertuigvloot en korrupsie. Dit is nie net generaals en ministers wat geteiken word nie.
Wat die geloofwaardigheid van data en statistiek aanbetref, het DefenceWeb op 13 November berig oor bevindinge van die ouditeur-generaal (OG) dat tot 30% van polisie-data “onbetroubaar” is weens verskeie redes.
Die OG het voorts bevind dat forensies tekortkominge, korrupsie en die manipulering van syfers ‘n skeefgetrekte beeld gee oor misdaad.
Statistieke SA se Victims of Crime Survey toon dat daar ‘n reuse “onderverslagdoening” van misdaad en veral seksuele misdrywe is wat nie aangemeld word nie omdat die publiek vertroue in die polisie verloor het.
Teen hierdie agtergrond moet die misdaadstatistiek wat vandag uitgereik is, beoordeel word. Dit is duidelik dat Suid-Afrika nie meer seker is presies wat die misdaadsituasie in die land is nie.
• Vandag se belangrikste statistieke toon aan dat moord in die kwartaal Julie tot September af is met 11,% teenoor die kwartaal April tot Junie. Van 5 794 tot 6 545.
• Die gevreesde “trio-misdade” is af: Motorkapings met 669 voorvalle, huisrooftogte met 864 en sakerooftogte met 829.
• Transitorooftogte is af met 18 voorvalle en gewapende roof met 3 689.
• Seksuele misdrywe is effens hoër (12 765 tot 12 787).


