Die jongste menslike kapitaalverslag wat Donderdag voor die Tshwane-metro raad gedien het, het opnuut die kollig op munisipale howe geplaas.
Hierdie instellings, wat veronderstel is om die metro se bywette en padreëls af te dwing, is besig om ’n duur las vir belastingbetalers te word.
In die huidige boekjaar het dié howe die metro meer as R36 miljoen gekos nadat ’n derde van alle sake van die rol geskrap is. Hierdie verliese spruit nie uit personeeltekorte nie, maar uit swak voorbereiding, onvoldoende opleiding en ’n gebrek aan dissipline.
Die howe se absolute onbevoegdheid is die kern van die probleem.
Alhoewel die metro se menslike kapitaalverslag vakatures in verskeie departemente lys, is dit duidelik dat die howe se mislukking nie aan ’n tekort aan personeel gekoppel kan word nie. Inteendeel: Departemente met groot personeelkorps vaar dikwels die slegste.
Munisipale howe tap voortdurend belastingbetalers se geld sonder om die basiese mandaat uit te voer waarvoor hulle bestaan – die afdwing van bywette en die beskerming van openbare orde.
Die werklikheid kan nie langer ontken word nie.
Die tyd het aangebreek om die munisipale howe dringend te herstruktureer en te verseker dat hulle hul rol effektief vervul.


