fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus bekommerd oor ondoeltreffende Covid-19-siftingsproses

Die VF Plus is bekommerd oor die Covid-19-siftingsproses wat tans in gemeenskappe plaasvind. Die beste manier om die COVID-19-pandemie te beveg is deur akkurate sifting, toetsing, opsporing, nasporing en isolasie toe te pas.

Dit wil voorkom asof die proses nie korrek deur alle veldwerkers uitgevoer word nie. Indien daar nie voldoende sifting gedoen word nie, is die data op grond waarvan besluite ten opsigte van die hantering en bekamping van die virus gemaak word, nie toereikend nie.

Die siftingsproses moet vrae insluit oor of die persoon in die laaste 14 dae kontak gehad het met iemand wat positief vir Covid-19 getoets is en of die persoon simptome, soos koors, hoes of diarree ervaar. Na-afloop van die vrae moet die veldwerker ‘n persoon se voorkop skandeer vir koors.

Dit was egter nie vandag die geval toe veldwerkers by Philip van Staden, VF Plus-parlementslid, se huis opgedaag het nie. Die veldwerkers het net gevra wie almal in die woning is en op ‘n afstand afsonderlike vrae gevra insluitend hul persoonlike besonderhede. Niemand se koors is gemeet nie.

Hierdie optrede deur veldwerkers laat verskeie kwelvrae ontstaan soos: is die veldwerkers goed opgelei om die taak te verrig, het hulle die nodige toerusting om persone se koors te meet, watter impak het dit op die daaglikse statistiek en hoeveel mense wat nie geskandeer is nie, is wel positief, maar nie getoets nie.

Die hele doel van die siftingsproses is juis om die virus in gemeenskappe op te spoor en die nodige stappe te doen om te sorg dat ‘n positiewe persoon verwys kan word na die naaste kliniek of hospitaal om getoets te word vir Covid-19. Dit het ook ten doel om persone wat positief toets in isolasie te plaas om die verspreiding van die virus te voorkom.

Die minister van gesondheid en sy departement sal moet toesien dat veldwerkers die nodige opleiding en toerusting ontvang alvorens hulle na gemeenskappe gestuur word om hul taak te verrig. Die grendelstaat en inperkings is nutteloos indien daar nie doeltreffende sifting en toetse gedoen word nie.

Kontaknommer: 060 556 4347

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.