Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom ontbinding van Phokwane-munisipale raad (Hartswater, Jan Kempdorp, Pampierstat) in die Noord-Kaap

Die VF Plus verwelkom die ontbinding van die Phokwane-plaaslike munisipale raad, wat dorpe soos Hartswater en Jan Kempdorp, asook die Vaal-Harts-besproeiingskema insluit. Wanbestuur lei reeds jare lank tot rioolbesoedeling, kragonderbrekings en algemene swak dienslewering in hierdie enjinkamer van die Noord-Kaapse ekonomie.

Optimisme na die plaaslike verkiesing van 2016 dat nuwe besems skoon sou vee, het gou tot teleurstelling gelei. Wanbetaling van die munisipale Eskom-rekening het veroorsaak dat dreigende kragonderbreking chronies gedreig het. Slegs doelgerigte regsoptrede deur die betalende gemeenskap het dit voorkom. Gedurende 2019 is die munisipaliteit onder administrasie geplaas, maar die administrateur was nie in staat om sake reg te ruk nie.

Die Noord-Kaap, met sy groot oppervlak en yl bevolking, is ekonomies afhanklik van besproeiingsgebiede soos in die Hartsriviervallei. Hierdie skema was een van die verbeeldingryke projekte om nypende armoede in die 1930s teen te werk. 'n Keerwal in die Vaalrivier naby Warrenton keer van hierdie rivier se water af na die seisoenale Hartsrivier. Kanale versprei dit dan na 'n netwerk van besproeiingspersele, waar wyndruiwe, pekanneute, olywe, mielies, koring, lusern en talle soorte groente verbou word.

Vernuf en deursettingsvermoë is met beskeie natuurlike hulpbronne gekombineer om hierdie oase te skep. Dit beteken egter dat die omgewing ekologies sensitief is en maklik deur riool en ander besoedeling agteruit kan gaan. Verder leun die gesofistikeerde landbougedrewe ekonomie swaar op elektriese energie. In 'n tyd van ekonomiese inkrimping en werksverliese is daar nie ruimte om 'n bate soos hierdie deur munisipale wanbestuur in gevaar te stel nie.

Terwyl die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, die belangrike stap geneem het om Phokwane se munisipale raad te ontbind, is die onus nou op kiesers om 'n raad te verkies om hierdie groen vallei steeds groter hoogtes van groei te laat bereik.

Kontaknommer: 074 166 5540‬

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.