Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, meen die Mangaung-metro moet op Inperkingsvlak Vier bly en nie na 'n laer vlak afbeweeg nie. Die premier is oningelig en tree onverantwoordelik op tot nadeel van die Vrystaat en in besonder die inwoners van Bloemfontein.
Die premier verwys na die aantal kumulatiewe gevalle van Covid-19-infeksies in die Vrystaat en in besonder in Mangaung as motivering dat die metro op Vlak 4 moet bly. Sy bring egter nie in berekening dat baie van hierdie gevalle reeds herstel het nie. Met minder as vyftig aktiewe gevalle in die metro, is daar dus geen rede om op ‘n hoë vlak van inperking te bly nie.
Die VF Plus is van mening dat die vlakke en beperkings irrasioneel van aard is en nie in lyn is om die verspreiding van die virus te bekamp nie. Sosiale distansiëring, gereelde was van hande, ander higiëne-maatreëls en beperkings op byeenkomste is die enigste effektiewe metodes om die verspreiding van die virus blywend te bekamp.
Ondernemings met die nodige voorsorgmaatreëls in plek moet geleentheid gegun word om handel te dryf.
Aangesien die Mangaung-metro die ekonomiese sentrum van die Vrystaat is, sal dit nadelige gevolge vir die hele bevolking van die provinsie inhou indien die ekonomie nie nou ontsluit word nie. Daar is geen sin daarin om die virus te bekamp terwyl mense van honger sterf en die ekonomie onherstelbaar skade ly nie.
Die aanvanklike doel van die grendelstaat was om die gesondheidsorgstelsel genoeg tyd te gee om gereed te wees vir die behandeling van die virus. Indien die premier wil voorgee dat die metro nie kan ontsluit weens gereedheid nie, is dit ‘n ernstige aanklag teen haar provinsiale regering en administrasie wat reeds agt weke tyd gehad het om dit te doen.
Dit is egter nie deur die toedoen van die inwoners van Mangaung nie en daarom mag inwoners en die ekonomie nie verder gestraf word vir die gebreke van die Vrystaatse gesondheidsorg nie. Geen grendelstaat gaan die virus stop nie. Dit sal slegs bydra tot die totale vernietiging van die ekonomie.
Die VF Plus eis dat daar opgetree word om hongersnood te voorkom, terwyl effektiewe maatreëls in plek gestel moet word om die verspreiding van die virus te bekamp. Die VF Plus sal met alles in sy vermoë die irrasionele voorstel van die premier teenstaan.
Kontaknommers: 083 743 2042/ 082 674 6670