Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Heropening van skole: Selfstandige onderwys kan die las op openbare onderwys verlig

Die geskikte vorm van onderwys in die lig van die Covid-19-pandemie, is in die hande van ouers self. Die adjunk-minister van basiese onderwys, me. Makgabo Mhaule, het Dinsdagaand bevestig dat kinders nie gedwing sal word om skool toe te gaan wanneer skole op 1 Junie vir graad sewes en twaalfs heropen nie. Daar is egter 'n voorwaarde en dit is dat daar werklik skool tuis aangebied moet word. Verder het die minister, me. Angie Motshekga, dit duidelik gestel dat kleiner skole se infasering van kinders anders as groot skole behandel sal word.

Dit is duidelik dat die botsende vereistes, van ouers wat hulle kinders teen Covid-19 wil beskerm teenoor die noodsaak om skole te heropen namate ouers na die werksplek terugkeer, besluitneming in basiese onderwys bemoeilik. Die rol van vakbonde, wat hul lede se veiligheid moet beskerm, speel ook 'n belangrike rol.

Alhoewel wetenskaplike gegewens tans daarop dui dat kinders slegs ligte simptome van Covid-19 ontwikkel, kan hulle draers van die virus na kwesbare mense in hul huishoudings wees. Daarom het die VF Plus oor die laaste weke daarvoor gepleit dat dwang uit die besluite rakende skoolbywoning gehaal moet word; dit geld sowel vir ouers wat hul kinders na skole wat gereed is wil laat terugkeer, as vir diegene wat dit nie wil doen nie.

Die betekenis hiervan is dat ouers en gemeenskappe, met die seën van die owerheid, groter verantwoordelikheid vir onderwys kan neem. Dit is gebiedend dat gehalte van onderrig nie in die slag mag bly nie. As ouers of kleiner gemeenskapskole die taak op hul skouers neem, moet alle hulpmiddels en selfs die dienste van kommersiële onderwysverskaffers, benut word.

Hierdie verwikkeling in onderwys is in ooreenstemming met die VF Plus se beleid dat onderwys 'n bevoegdheid van die gemeenskap behoort te wees. Hoewel die staat steeds onder die indruk mag wees dat die departement van basiese onderwys steeds die belangrikste rolspeler in onderwys is, mag die praktyk in die afsienbare toekoms die teendeel bewys.

Kontaknommer: ‪074 166 5540

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.