Inwoners van Rustenburg is bekommerd oor die toenemende gevalle waar huise deur onwettige besetters ingeneem word. Woonbuurtes soos Proteapark, Oos Einde en Geelhoutpark word skynbaar geteiken weens ‘n aantal huise van mynmaatskappye wat leegstaan.
Die VF Plus in Rustenburg het reeds vyf gevalle bevestig waar huise deur onwettige besetters ingeneem is.
Pogings om huise te beset het ook merkbaar toegeneem sedert die Covid-19-inperking ingestel is. Hierdie besettings is duidelik georkestreer en word gekenmerk deur groepe mense wat in taxi’s, bakkies en motors by huise opdaag en poog om met geweld toegang tot die huise te verkry.
In die jongste voorval wat op beeldmateriaal vasgevang is, kan gesien word hoe ‘n veiligheidswag van Hencor-sekuriteit en sy hond, met lere en bakstene aangeval word deur n groep mense wat met ses voertuie by n huis in Suikerboslaan, Proteapark, opgedaag het. Volgens inwoners in die straat is die polisie gekontak om bystand te verleen, maar het eers ‘n uur later by die toneel opgedaag. Die wag moes vir sy eie veiligheid die toneel verlaat waarna die groep mense voortgegaan het om die ander inwoners van die straat te dreig, en het ook met hul voertuie op omstanders afgery in n poging om hulle te intimideer.
Die VF Plus het die afdeling Publieke Veiligheid van die Rustenburg munisipaliteit gekontak, en daarop aangedring dat hierdie voorvalle behoorlik ondersoek word en voorkomende maatreëls ingestel word om inwoners en hul eiendom te beskerm. Die munisipaliteit het onderneem om in samewerking met die polisie misdaadvoorkoming in die betrokke woonbuurtes te verskerp.
Die VF Plus vind hierdie gebeure uiters kommerwekkend en doen ‘n beroep op owerhede op alle vlakke van regering om te verseker dat wetsgehoorsame inwoners nie onderwerp word aan misdadige en barbaarse optrede deur opportunistiese elemente in die samelewing nie.
Die polisie behoort hierdie optrede as ‘n prioriteit te ondersoek en verseker dat sulke oortreders aan die pen ry.
Kontaknommer: 076 819 0648