Die VF Plus is bekommerd oor die skerp toename in plaasaanvalle wat oor die afgelope drie weke in Noordwes aangemeld is.
In die jongste voorval is ‘n boer van die Ottosdal-omgewing gisteraand deur drie aanvallers op sy plaas aangerand en van kontant, ‘n 9mm-pistool en ammunisie, kredietkaarte en sy bakkie beroof.
Hierdie aanval is die vyfde ernstige plaasaanval in Noordwes die afgelope drie weke.
Alhoewel daar baie aanvalle is, kan wel gesien word dat die vinnige optrede en samewerking van boere, plaasbeveiligingstrukture en die polisie, vrug begin dra.
Dit word weerspieël in die groter aantal aanvallers wat in hegtenis geneem word, asook voorvalle waar aanvalle voorkom of onderbreek is weens die vinnige reaksie van beveiligingstrukture en ander voorkomende maatreëls.
Die VF Plus bedank alle rolspelers in landelike gemeenskappe wat bydraes lewer om boere en plase te beveilig. Dit bly belangrik om paraat te bly, aan te sluit by plaaslike veiligheidstrukture en mekaar te ondersteun.
Die VF Plus doen ook ‘n beroep op die polisie om steeds nouer met die plaaslike landbou-gemeenskappe saam te werk om misdaad teen landbouers hok te slaan.