fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC lei Rustenburg droog

Inwoners van Rustenburg gaan vir etlike jare gebuk onder watertekorte wat, soos elders, onder meer veroorsaak word deur verouderde waterinfrastruktuur en die wanbestuur van reservoirs onder ANC-bestuur.

Die Rustenburg-plaaslike munisipaliteit probeer hierdie waterprobleme en sy onvermoë om iets daaraan te doen, voor die deur van omliggende mynbedrywighede se waterverbruik te lê.

Die myne rondom Rustenburg is ‘n kern-ekonomiese aandrywer en kan nie die blaam dra vir die swak beplanning van die ANC-beheerde munisipaliteit nie. Die ANC sinspeel gereeld daarop dat groot probleme in die munisipaliteit eerder “uitdagings” is as krisisse.

Tydens ‘n radio-onderhoud met Rustenburg-munisipaliteit se ANC-burgermeester, Mpho Khunou, het hy erken dat Rustenburg al ‘n geruime tyd gebuk gaan onder ‘n waterkrisis. Daar is reeds in 2013 voorsien dat daar ‘n waterkrisis in die munisipaliteit gaan ontstaan.

Magalieswater het intussen R1 miljard aangevra vanaf die departement van water en sanitasie om die Pilanesberg waterskema-projek te voltooi. Die skema beoog om ‘n verdere 70 megaliter water aan Rustenburg te verskaf. Die projek is slegs tot by Mafenya voltooi en verdere fondse word benodig om dit af te handel. Die projek sloer vanaf 2016.

Rustenburg ervaar tans ‘n tekort van 50 megaliter water per dag. Indien die fondse wel ontvang word, sal dit steeds ‘n verdere twee jaar neem voordat die projek voltooi is. Indien dit nie bekom word nie, staar die inwoners van Rustenburg die naderende moontlikheid van beurtwater in die oë.

Luidens ‘n amptelike verklaring uitgereik deur die burgemeester, het Magalieswater beloof om die saak weer eens onder die nasionale regering se aandag te bring.

Rustenburg Waterdienste Trust bestuur die Bospoort- waterwerke en kan 12 megaliter water per dag bykomend aan Rustenburg verskaf, maar as gevolg van gedurige kragonderbrekings word daar tans slegs 6 megaliter per dag verskaf.

Beloftes word deur die munisipaliteit gemaak van ‘n taakspan wat aangestel gaan word om die algehele waterkrisis van Rustenburg te ondersoek, maar tot op hede is nog geen behoorlike ondersoek gedoen nie.

Die beloofde taakspan sal na bewering bestaan uit die munisipale bestuurder, Victor Makona, sowel as Magalieswater, Randwater, Rustenburg Waterdienste Trust en ander kundiges.

Die plan om pompe by Geelhoutpark- en Tlhabane Wes-reservoirs te vervang, gaan geringe verligting bied, maar is steeds net ‘n druppel aan die emmer.

Dit is ‘n skande dat inwoners van hierdie kern-ekonomiese spilpunt in Noordwes die spit moet afbyt vir die munisipaliteit se jarelange swak beplanning en ‘n gebrek aan infrastruktuur-onderhoud.

Kiesers moet met die opkomende plaaslike regeringsverkiesings die ANC na behore by die stembus straf vir sy swak dienslewering en moet stem om beter dienslewering te verseker vir die toekoms.

Navrae: 076 819 0648

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.