Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus bekommerd dat tydelike herstelwerk aan N12 in Wolmaranstad verval van infrastruktuur kan vererger

Die VF Plus is bekommerd oor die negatiewe impak wat die tydelike herstelwerk aan die N12 in Wolmaransstad op die padinfrastruktuur sowel as ander infrastruktuur kan aanrig.

Daar word tans groot hoeveelhede rooigrond aangery om die padoppervlak te kompakteer.

Hierdie grond is geensins geskik vir padoppervlaktes nie, veral nie in ‘n dorpsgebied nie. Dit vererger die stofprobleem waarmee inwoners en plaaslike sakelui reeds mee te kampe het.

Plaaslike ondernemings het reeds groot skade gelei en kostes aangegaan om hul toerusting en voorraad teen stofskade te beskerm.

Indien dit sou reën, sal hierdie pad ook bloot in ‘n moddersloot verander met groot hoeveelhede grond wat in die stormwaterstelsel beland. Dit sal veroorsaak dat die stelsel verder toeslik en strate tydens reënbuie in riviere verander.

Die VF Plus het sy kommer teenoor die minister van vervoer, Fikile Mbalula, geopper en hy het onderneem om aandag aan die situasie te gee en die VF Plus op hoogte van enige terugvoer te hou.

Die VF Plus sal die situasie monitor en ook verder met die minister gesprek voer tydens sy opvolgbesoek aan die provinsie in April.

Die minister het tydens sy besoek aan Wolmaransstad op Vrydag 11 Maart onderneem om binne ‘n maand ‘n opvolgbesoek te bring. Tydens hierdie ontmoeting sal die VF Plus ook weer die ander knelpunte op die N12 hoofroete opvolg.

Dié pad in Klerksdorp is ook in ‘n haglike toestand en die treinbrug in Potchefstroom is besig om vinnig te verval.

Dit is noodsaaklik dat die owerhede besef dat die herstel en instandhouding van infrastruktuur só aangepak word dat dit nie nuwe probleme skep of ander probleme vererger nie.

Die VF Plus sal voortgaan om die herstel en instandhouding van infrastruktuur as ‘n prioriteit op alle vlakke van regering te bevorder.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.