Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die waarnemende munisipale bestuurder van die Steve Tshwete-plaaslike munisipaliteit (Hendrina, Middelburg, Pullens Hope, Rietkuil), Thokozile Zulu, daarop aangedring dat planne in plek gestel word om die diefstal van kragkabels en die vandalisme van kraginfrastruktuur te voorkom.
Die party het self ook voorstelle gemaak oor hoe dié soort misdaad voorkom kan word.
Die afgelope Sondag en Maandag is sowat 1km se kragkabels gesteel en kragpale afgekap. Die skade beloop miljoene rand.
Die betrokke kraginfrastruktuur is in November verlede jaar aangelê vir die uitbreiding van die Kwazamokhutle-woonbuurt, in Hendrina.
Die diewe wou waarskynlik die koper in die kabels steel, maar die kabels bevat net aluminium en is op die misdaadtoneel agtergelaat.
Die VF Plus het in sy voorstelle gevra vir die oprig van sekuriteitskameras en die ontplooiing van meer sekerheidspersoneel by substasies in die munisipaliteit.
Die munisipaliteit moet ook die plaaslike polisie vra vir meer patrollies in gebiede wat gereeld onder kabeldiefstal deurloop.
Die VF Plus het ook buurtwagte en gemeenskappolisiëringsforums (GPF) versoek om enige verdagte aktiwiteite dadelik by die polisie aan te meld.
Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie proaktief optree om die soort misdaad te verhoed nie, maar eers optree wanneer die misdaad gepleeg is en inwoners in die donker sit.
Dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om toe te sien dat kritieke infrastruktuur soos substasies en watersuiweringsaanlegte beveilig word.
Die VF Plus sal nie toekyk hoe die voortdurende kabeldiefstal en gepaardgaande kragonderbrekings inwoners verontrief en die ekonomiese groei van die munisipaliteit strem nie.