Die VF Plus gaan daarop aandring dat die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier) meer voertuie aan die verkeersafdeling in Hazyview beskikbaar stel. Tans beskik die verkeersafdeling in dié dorp oor net een voertuig per skof wat deur vyf beamptes gedeel moet word.
Dit beïnvloed die effektiewe toepassing van verkeersreëls en -wette en van sigbare polisiëring is daar nie sprake nie.
Die situasie lei onafwendbaar daartoe dat padgebruikers eenvoudig alle verkeersreëls en -wette verontagsaam omdat die moontlikheid skraal is dat iemand aanspreeklik gehou gaan word.
Die VF Plus gaan daarop aandring dat die munisipaliteit sy beleid vir voertuigpakkette vir graad 11-werknemers en hoër in werking stel. Dit behels dat werknemers ingevolge ‘n spesiale vergoedingspakket ook hul private motors vir werksdoeleindes kan gebruik.
Dit sal voertuigmisbruik deur werknemers verminder omdat dit gesamentlike eienaarskap van die voertuie toelaat en sal sodoende voertuiginstandhouding en verantwoordelikheid teenoor die vloot verbeter.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om hierdie beleid toe te pas om munisipale verkeersbeamptes in staat te stel om hul werk behoorlik te verrig en die veiligheid van padgebruikers te verseker.
Navrae: 076 687 2830 / 066 376 3329