Die VF Plus betreur die afsterwe van ‘n geliefde raadslid en kollega, Jan Oost, wat op Maandag, 31 Januarie, in ‘n motorongeluk tussen Villiers en Vereeniging verongeluk het.
Oost was vir 11 jaar betrokke by die party en dien sedert 2016 as ‘n raadslid in die Mafube-plaaslike munisipale raad. Hy was ook lid van die VF Plus se Vrystaatse dagbestuur.
Sy ervaring en betrokkenheid in die raad en gemeenskap sal geweldig gemis word. Hy het uit sy pad gegaan om in belang van die gemeenskap op te tree en was altyd hard aan die werk om munisipale diensleweringsprobleme aan te spreek.
Jan was ‘n omgee-mens en was altyd gereed om mense by te staan. Hy het elke oproep afgesluit met: “Sê as ek jou kan help met iets.”
Hy was ‘n vriend, uitstekende raadslid en ‘n pa wat alles vir sy vrou en kinders sou opoffer. Jan het voluit geleef, die lewe geniet en elke oomblik benut om mense te laat lag.
Die VF Plus spreek sy innige meegevoel uit met sy ouers en gesin, en bid sy vrou, Sandra, en seuns, Jan jnr. en Eben, ‘n vinnige herstel en vertroosting toe.
Mag die Hemelse Vader die gesin en familie in hierdie hartseer tyd omarm en vrede gee.