fbpx
Vryheidsfront Plus

Ondersoek na rioolprobleme in Potchefstroom na volgehoue druk deur die VF Plus

Die nasionale departement van water en sanitasie het aan die VF Plus in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit bevestig dat daar reeds ondersoek ingestel word na die voortslepende rioolprobleme wat die inwoners van Potchefstroom vir ‘n geruime tyd teister.

Me. Jeanette Nyama, omgewingsbeampte van die departement, het ook die versekering gegee dat die rioolsituasie in Potchefstroom noukeurig gemonitor word.

Sy het verder onderneem om gereeld terugvoer oor vordering met die ondersoek aan die VF Plus te gee.

Die VF Plus sal daarop aandring dat die voorgeskrewe direktiewe met regstellende stappe onmiddellik na afhandeling van die ondersoek aan die JB Marks-munisipaliteit uitgereik word.

Die VF Plus het intussen reëlings met die munisipaliteit getref om op die korttermyn die riool te verwyder en tydelike herstelwerk te doen om inwoners se nood te verlig.

In verdere gesprekke met die owerhede het die VF Plus deurlopend daarop klem gelê dat die instandhouding en opgradering van infrastruktuur die hoogste prioriteit behoort te geniet.

Die algemene verval van infrastruktuur hou sekerlik die grootste enkele bedreiging vir die volhoubare voortbestaan van Potchefstroom en Ventersdorp in.

Dit is ‘n skande dat hierdie ANC beheerde-munisipaliteit toegelaat het dat infrastruktuur in hierdie dorpe tot só ‘n mate verval dat dit nou selfs gesondheidsgevare vir die inwoners inhou.

Die VF Plus sal voortgaan om druk op alle vlakke van regering toe te pas om inwoners se belange teen die gevolge van die ANC se wanbestuur te beskerm.

Navrae: 083 291 5199 / 082 457 7774

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.