fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus sit sy stryd voort teen rioolbesoedeling in Thabazimbi-munisipaliteit

Die VF Plus sal sy stryd teen rioolbesoedeling in die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit voortsit nadat daar tydens ‘n oorsigbesoek gevind is dat die munisipaliteit se rioolsuiweringsaanlegte steeds buite werking is nieteenstaande die ingryping van die Menseregtekommissie in 2019.

Intussen duur die besoedeling van skaars waterbronne in die omgewing ongehinderd voort.

Die VF Plus het in 2020 ‘n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien oor die rioolbesoedeling en is as klaer deur die MRK genooi om hom en Limpopo se departement van ekonomiese ontwikkeling en omgewingsake te vergesel op die oorsigbesoek by die aanlegte.

Die MRK het in Desember 2020 ‘n strafregtelike klag ingedien teen die munisipale bestuurder, Gladwin Tloubatla, weens die besoedeling. Die saak is volgens die MRK na die vervolgingsgesag verwys vir ‘n beslissing oor vervolging.

Met vandag se besoek aan die Thabazimbi-rioolaanleg, is dit egter steeds buite werking gevind. Riool vloei vanuit dié aanleg in die Rooikuilspruit.

Dié spruit vloei tot in die Krokodilrivier wat aansluit by die Limpopo-rivier. Die grootskaalse rioolbesoedeling raak daarom nie net Suid-Afrika nie, maar ook buurlande wat grens aan die Limpopo-rivier.

By die Northam-aanleg is daar nie een pomp wat werk nie. Riool vloei dwarsdeur die aanleg onderdeur ‘n brug tot op ‘n boer se grond.

Dit is uiters teleurstellend om te vind dat die munisipaliteit steeds geen moeite gedoen het om die aanlegte te herstel om die besoedeling te voorkom nie,

Die Thabazimbi-munisipaliteit het destyds aan die MRK bevestig dat hy deeglik bewus is van die probleme en tekortkominge by die aanlegte en dat daar samesprekings gevoer word met twee myne in die omgewing wat glo bereid was om te help met die opgradering van die aanlegte asook met die bou van ‘n nuwe afvalwaterbehandelingsaanleg. Daar het duidelik niks van die onderhandelings gekom nie.

Die MRK vergader nou eerskomende Vrydag (4 Februarie) met die departement van ekonomiese ontwikkeling en omgewingsake in ‘n hernieude poging om die probleem op te los.

Die VF Plus sal intussen voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om die aanlegte te herstel en sal gereeld skakel met die MRK om te hoor wat die situasie is.

Limpopo is ‘n waterskaars-provinsie en die ongebreidelde besoedeling van waterbronne kan nie toegelaat word nie.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.