Die Vryheidsfront Plus verwelkom die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) se bevel dat die SAUK se besluit om nuussensuur toe te pas en nie geweld, of betogings teen die SAUK uit te saai nie, herroep moet word, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Dr. Mulder sê hierdie besluit is die eerste konkrete stap in die inperking en uiteindelike afdanking van die SAUK-baas mnr. Hlaudi Motsoeneng. Na al die skade wat deur hom aangerig is, is daar ‘n groot vraagteken of die SAUK ooit weer sy nuusgeloofwaardigheid sal kan herwin.
“Dit bly onverklaarbaar waarom mnr. Hlaudi Motsoeneng as SAUK-hoof, maar ook president Jacob Zuma en verskeie ministers binne ‘n kort tydjie na hulle aanstelling arrogant en magsdronk geword het.
“Dan ignoreer hulle alle advies en neem met groot selfvertroue verkeerde besluite wat groot skade vir Suid-Afrika en baie mense wat daardeur geraak word, aanrig. Dit neem ‘n uitgerekte proses van opposisiepartye soos die VF Plus en burgerlike organisasies om hulle verkeerd te bewys en die verkeerde besluite omgekeer te kry.
“In pres. Zuma se geval het dit met die Nene-afdanking en die Nkandla-oorsbesteding gebeur. Pres. Zuma moes mnr. Pravin Gordhan toe aanstel en is deur die Grondwethof gedwing om geld vir Nkandla terug te betaal.
“Iemand soos minister Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, het eers die Suid-Afrikaanse toerismebedryf onberekenbare skade aangedoen voordat hy gedwing is om sy verkeerde besluite oor visumregulasies te herroep.
“Nou het die SAUK-baas met groot bravade allerlei aankondigings oor nuussensuur gedoen net om deur Okasa beveel te word om die verkeerde besluite om te keer. Die onnodige skade aan die geloofwaardigheid van die SAUK asook aan die loopbane van verskeie joernaliste, kan nie bereken word nie.
“Hopelik sal dit daartoe lei dat al die dreigemente van skorsings en tugsake teen SAUK-joernaliste teruggetrek word aangesien hul standpunte oor nuussensuur nou reg bewys is,” sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670