Die VF Plus het Maandag, tydens ’n portefeuljekomitee-vergadering van die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit, geëis dat substasies in Kroonstad dringend in stand gehou en beveilig word om herhaalde kabeldiefstal te voorkom.
Danksy die VF Plus se ingryping het die munisipaliteit se parke-afdeling reeds vandag, saam met die party, ’n oorsigbesoek aan die substasies gebring.
Die gras is dadelik gesny en ’n boom wat ’n sekuriteitsrisiko veroorsaak het, is verwyder.
Kabeldiefstal vind gereeld plaas en dit kos die munisipaliteit groot bedrae geld om hierdie kritieke infrastruktuur telkens te herstel en tydelik te beveilig.
Vervalle en verwaarloosde substasies skep nie net ’n ernstige veiligheidsrisiko nie, maar is ook ’n ideale skuilplek vir misdadigers.
Hierdie herhaalde diefstalle lei tot aansienlike finansiële verliese vir inwoners en ondernemings wat gereeld sonder elektrisiteit sit. Sulke kragonderbrekings kan grootliks voorkom word indien die ANC-beheerde munisipaliteit tydig voorsorg tref en die beveiliging van substasies as prioriteit behandel.
Die VF Plus het reeds geskryf aan die munisipale bestuurder, me. Portia Tshabalala, en die burgemeester, mnr. Motloheloa Mokatsane, en gevra dat daar in die volgende begroting voorsiening gemaak word vir voldoende beligting, heinings en wagte by substasies om diefstal te beperk.
Die behoorlike instandhouding en skoonmaak van substasies en omliggende gebiede is noodsaaklik vir volhoubare basiese dienslewering aan inwoners.
Basiese instandhouding en beveiliging is nie ingewikkeld nie, maar die ANC toon weereens dat hy eenvoudig nie in staat is om dit reg te doen nie.


