Die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM) se waterkrisis het ’n kritieke stadium bereik en vereis onmiddellike en beslissende optrede.
Die metro beskik tans oor sowat 246 dae se waterreserwes, wat duidelik toon dat die metro onder enorme druk verkeer.
Alhoewel dit nog nie tegnies dag nul is nie, bevind die metro hom reeds in ’n volskaalse noodtoestand.
Die vlakke van die hoofdamme daal voortdurend weens die aanhoudende droogte en onvoldoende reënval. Hierdie natuurlike uitdagings word vererger weens mensgemaakte probleme soos swak instandhouding, verouderde infrastruktuur, onbetroubare pompstasies en gereelde tegniese foute.
Kabeldiefstal, pompbreuke en ander skade lei tot herhaalde onderbrekings wat die toevoer van water na reservoirs en woongebiede ernstig ontwrig.
Nog ’n groot knelpunt is die uitermate hoë vlak van waterverliese. Meer as 40% van alle behandelde drinkwater gaan verlore weens stukkende waterpype, onbeheerde breuke en stadige herstelwerk.
In ’n tyd waar elke druppel van kritieke belang is, is sulke verliese eenvoudig onaanvaarbaar en dui dit op ernstige bestuurs- en instandhoudingsversuim.
Waterdiefstal vererger die druk op die stelsel.
Die VF Plus het onlangs aan die ANC-burgemeester uitgewys dat ’n watertrok betrap is waar water onwettig by ’n brandkraan getap is. Ten spyte van die erns van die oortreding, is die bestuurder slegs met ’n boete van ‘n duisend rand beboet.
Die VF Plus dring daarop aan dat beide die bestuurder en die eienaar strafregtelik aangekla word, maar tot dusver het die ANC nie op hierdie versoek gereageer nie.
Alhoewel die ANC- en EFF-geleide regering inwoners versoek om water te bespaar, ’n oproep wat die VF Plus steun, bly dit problematies dat die fokus hoofsaaklik op inwoners geplaas word.
Die metro tree nie daadwerklik op teen waterdiefstal, onwettige verbindings en massiewe verliese weens lekkasies nie.
Die VF Plus beklemtoon dat die regering net so dringend moet fokus op die water wat daagliks in strate verlore gaan en streng moet optree teen almal wat water steel of vermors.
Waterskaarste is nie meer ’n toekomstige bedreiging nie, maar ’n huidige realiteit.
Sonder ferm leierskap, verantwoordelike bestuur en daadwerklike optrede teen wanbestuur en diefstal, staar Nelson Mandelabaai ’n ernstige waternood in die gesig.


