Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Verminderde begrotingstoewysing aan klein-sakeondernemings sal ekonomiese krisis in Suid-Afrika verdiep

(Debat in NRP oor aansuiweringsbegroting vir departement van kleinsake-ontwikkeling)

Dit is onbegryplik dat die regering die toewysing aan kleinsake-ontwikkeling in die aangepaste begroting verminder het, gegewe die rol wat dié sektor speel in werkskepping, en dit sal die huidige ekonomiese krisis in die land net verdiep.

Suid-Afrika se ekonomie was reeds in resessie voor die Covid-19-pandemie en is steeds besig om in te krimp.

Om sake te vererger, is Suid-Afrika die slagoffer van een van die wêreld se langste en strengste grendeltydperke wat self toegedien en goedgekeur is. Hierdie inperkingsmaatreëls is ekonomies nie volhoubaar nie en kleinsake-ondernemings ly groot skade.

Volgens Statistiek SA se sake-impakopname, het meer as 36% van ondernemings tussen 14 en 30 April 2020 aangedui dat hulle as korttermyn-maatreël gedwing was om personeel af te lê en dat 9% van klein-sakeondernemings hul deure permanent sal moet sluit.

Die regering verstaan duidelik nie dat klein-sakeondernemings die ruggraat van die ekonomie is en die land aan die gang hou nie.

Ondersoeke het in Junie reeds getoon dat 75% van klein- en medium-sakeondernemings sou sluit indien die inperking langer as 30 Junie duur. Dit was ‘n maand gelede en die inperkings is steeds in plek. Die ondersoek voorsien ook ‘n verlies van 4 miljoen werksgeleenthede.

Die regering moet 'n omgewing skep wat bevorderlik is vir klein-sakeondernemings om te groei en die skep van werksgeleenthede. Met die besnoeiing in die begroting kan dit eenvoudig nie bereik word nie.

Diskriminerende wetgewing soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie moes lankal geskrap gewees het om ondernemers in staat te stel om hul gemeenskappe te verryk deur mikro-ekonomieë te stimuleer.

Tans word sekere etniese groepe uitgesluit van finansiële bystandskemas en hierdie aksies dra slegs by tot rassepolarisasie in die land en lei nie tot nasiebou, die voortbestaan van ondernemings of werksekerheid nie.

Suid-Afrikaners moet verenig rondom 'n nuwe toekomsvisie wat individue in staat stel om beheer oor hul eie lot te neem op grond van integriteit, eerlikheid, harde werk en wedersydse respek.

Die ekonomie van Suid-Afrika is gebou met vaardigheid en vasberadenheid, en dis nou tyd om terug te slaan teen 'n regering wat geneig is om hierdie erfenis te vernietig.

Navrae: 079 885 1135

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.