fbpx
Vryheidsfront Plus

Munisipaliteite dra direk by tot buitensporige watertariewe

Tydens ‘n gesamentlike virtuele vergadering van die parlementêre portefeuljekomitees vir water, sanitasie, samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) vandag, het die direkteur-generaal van die departement van water en sanitasie, Mbulelo Tshangana, erken dat munisipaliteite landwyd direk bydra tot die verhogings in watertariewe.

Die feit dat munisipaliteite nie hul rioolafval effektief bestuur nie en noodsaaklike infrastruktuur laat verval, lei tot ernstige besoedeling van die land se natuurlike waterbronne.

Dit plaas groot druk op die onderskeie waterrade om ekstra en baie duur watersuiweringsmetodes in te span om te verseker dat gemeenskappe geskikte drinkwater het. Hierdie situasie is onvolhoubaar en skep ‘n bose kringloop wat gaan veroorsaak dat normale waterverbruik onbekostigbaar word.

Die departement het ook erken dat daar sedert 2014 geen “blou druppel”- en “groen druppel”-graderings by munisipaliteite gedoen is nie. Hierdie graderingsmeganisme is juis ingestel om watergehalte landwyd te kontroleer en te verseker dat munisipaliteite hul riool- en water-infrastruktuur behoorlik bestuur en onderhou.

Dit het graderingsverslae vir munisipaliteite ingesluit met voorskrifte vir verbetering en regstelling waar nodig. Die regering weet dus nie wat die status is van die gehalte water wat aan mense gelewer word nie. Die departement beoog skynbaar om dit weer in 2021 in werking te stel.

Water in die hele Suider-Afrika is ‘n baie skaars hulpbron en hierdie situasie skep ‘n wesenlike bedreiging vir die land en al sy inwoners. Dit is onaanvaarbaar.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die departement, die minister en die regering in geheel om die bewaring en bestuur van die land se waterbronne ‘n prioriteit te maak. Soos die situasie tans is, stuur die land op ‘n ongekende ramp af.

Navrae: 079 409 8342

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.