(Begrotingsposdebat in Vrystaatse wetgewer)
Die VF Plus herinner die Vrystaatse departement van kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, opnuut daaraan om nie sy verantwoordelikheid teenoor die omgewing af te skeep nie.
Meeste Vrystaatse stortingsterreine voldoen nie aan die minimum wetlike vereistes nie en waterbronne soos die Vaal- en Wilgeriviere word weens die regering se onbevoegdheid en ongeërgdheid teenoor die omgewing besoedel met rioolvuil, bloed van abattoirs en vullis.
In die Nala-plaaslike munisipaliteit (Bothaville, Wesselsbron) pomp die munisipaliteit riool in ‘n veld aangrensend tot ‘n informele nedersetting. Dit word ook in die grondwater opgeneem.
Die klagtes wat die VF Plus onder hierdie departement se aandag gebring het, is goed gedokumenteer, maar klagte oor besoedeling van die provinsie se kosbare waterbronne kan nie net by klagte bly nie.
Die VF Plus het ook talle strafregtelike klagte teen oortreders soos munisipale bestuurders ingedien, maar daar kom niks van nie.
Die party verwelkom die onlangse positiewe reaksie van die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Barbara Creecy, oor hierdie kwessies. Die Vrystaatse provinsiale regering moet egter ook verantwoordelikheid neem en op grondvlak sorg dat die Vrystaat se kosbare natuurlike hulpbronne so effektief en so goed moontlik bestuur en bewaar word.
Navrae: 084 206 3375