Die VF Plus het vandag in ’n skrywe aan die premier van Limpopo, mnr. Stanley Mathabatha, daarop aangedring dat Warmbad en omliggende dele tot rampgebied verklaar word.
Verwoestende veldbrande teister sedert Saterdagoggend (23 September) die Bela-Bela-plaaslike munisipaliteit (Warmbad, Pienaarsrivier).
Volgens die plaaslike VF Plus-raadslid, Jee-Dee Cloete, wat deurentyd betrokke was by bestrydingsaksies, is duisende hektaar grond en vakansiehuise by veral die Mabalingwe-natuurreservaat in puin gelê.
Daar is ook teen Sondagaand besluit om die verkeer op die Thabazimbi-pad (R516) tussen Mabalingwe se hek en Ingolozi Park, tydelik te reguleer aangesien die rook van voorbrande wat gemaak is om te keer dat die vuur oor die pad spring, motoriste se sig sou belemmer.
Dié pad is nou weer oop, maar daar is steeds baie rook in die omgewing.
Boere, plaaslike gemeenskappe en brandverenigings veg steeds onverpoos om die brande in bedwang te bring.
Brandbestryders vanaf die Tshwane-metro is reeds ontbied om plaaslike brandbestryders by te staan. Indien dit nie suksesvol is nie, is woongebiede van Pienaarsrivier en Hammanskraal ook in gevaar.
Die party is veral bekommerd oor die swak kommunikasie tussen brandweer-owerhede van dorpe in die Waterberg-distriksmunisipaliteit (Nylstroom, Naboomspruit, Warmbad, Thabazimbi, Ellisras). Brandweerstasies en personeel is eers teen Sondagaand geaktiveer.
Distriksmunisipaliteite moet rampbestuur prioritiseer en hul toepaslike toelae gebruik om hul werk na behore te doen.