Die parlement se portefeuljekomitee oor basiese onderwys het die Bela-wetsontwerp nou goedgekeur en het in die proses ʼn grondwetlike artikel oor selfbeskikking in die verband geïgnoreer.
Die VF Plus se teenstand teen dié basiese onderwys-wysigingswetsontwerp is deeglik te boek gestel. Die kern daarvan is die staat se toenemende inpalming van skoolbeheerliggame se bevoegdhede.
In debatte in die portefeuljekomitee het die ANC en EFF herhaaldelik die wetsontwerp as voorwaarde vir transformasie bevorder.
Die vraag wat ontstaan is of die wetsontwerp die reg op selfbeskikking, soos in artikel 235 van die Grondwet vervat, ignoreer. Onderwys word wêreldwyd as ʼn grondliggende element van selfbeskikking beskou.
Terwyl openbare skole reeds geen keuse ten opsigte van kurrikulum het nie, kon sulke skole wel hul eie aard deur ʼn gedragskode, toelatings- en taalbeleid bepaal. Hierdie reg word nou in die hande van die provinsiale departementshoof in stede van die skoolbeheerliggaam en ouers geplaas.
Die volgende stap is dat hierdie wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering (NV) oorweeg moet word waarna die nege provinsiale wetgewers dit sal oorweeg.
Daarna moet die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) ʼn besluit neem voordat die president dit kan promulgeer. Die wetsontwerp kan egter nog voor daardie tyd gestuit word.
Prosedurele probleme in die aanloop tot vandag se stemming sal ondersoek en waarskynlik voor die hof gebring word. Dit is egter noodsaaklik om daarop te wys dat die beswaar daarteen in die eerste plek nie prosedureel is nie, maar inhoudelik.
Die kern van die beswaar is die ondermyning van gemeenskappe met ʼn gemeenskaplike taal- en kultuurerfenis se reg op eiesoortige onderwys. Die uitkoms hiervan sal ʼn toets wees vir die geldigheid van artikel 235.
Die VF Plus sit gevolglik die stryd teen die Bela-wetsontwerp voort.