Die verkeerslig by die Mall at Carnival in Brakpan is ten volle herstel danksy die VF Plus se bydrae in die “aanneem en beveiliging-inisiatief”.
Dié verkeerslig is een van die belangrikste aansluitings wat die R23 en Airport Road met mekaar verbind.
Die Gautengse departement vir paaie het dié “aanneem- en beveiligingsinisiatief” geloods om ondernemings aan te moedig om stukkende verkeersligte aan te neem en te herstel.
Volgens die provinsiale departement van paaie beskik hy nie oor genoeg fondse om al die verkeersligte waarvoor hy verantwoordelik is, te onderhou nie.
Die VF Plus is van mening dat swak beplanning, wanaanwending van fondse en ʼn tekort aan opgeleide tegniese personeel die probleem vererger.
Die VF Plus het besluit om die inisiatief te steun ter wille van inwoners en besoekers se veiligheid en het daarom self ook ondernemings genader om dit te steun. Die party het ook die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) betrek.
Die VF Plus bedank die bestuur van Mall at Carnival vir die bereidwilligheid om na vore te tree om die verkeerslig aan te neem en te herstel.


