Die VF Plus het die waarnemende stadsbestuurder van die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM), mnr. Ted Pillay, gevra om onmiddellik in te gryp teen die onwettige kragverbindings in Kragga Kammastraat.
Dié straat, wat deur verskeie woonbuurte in Port Elizabeth (Gqeberha) loop, is ʼn brandpunt wanneer dit kom by onwettige kragaansluitings. Die onwettige kragverbindings vleg van kragbokse langs Kragga Kammastraat oor paaie en heinings tot in wonings.
Hierdie verbindings is nie net onwettig nie, maar hou ʼn ernstige veiligheidsrisiko in vir inwoners en lei tot groot finansiële verliese vir die NMBM.
Die VF Plus eis dat die stadsbestuurder ʼn omvattende ondersoek loods en dat alle onwettige kragverbindings verwyder word en daar streng opgetree word teen oortreders.
Eindelik is dit getroue belastingbetalers wat gestraf word vir kragdiefstal met verhoogde kragtariewe en kragonderbrekings weens oorlading.
Die VF Plus sal die kwessie ook met die volgende raadsitting opper en sal aanhou druk toepas tot die probleem daadwerklik aangespreek word.


