Die VF Plus het die hersiene 2024/25-dienslewerings- en begrotingsimplementeringsplan (SDBIP) wat vandag voor die Mangaung-metroraad gedien het, verwerp.
Dit is ʼn bloot ʼn gepoleerde en misleidende samevatting om die werklike stand van dienslewering in die metro te probeer verbloem. Die metro gebruik tegniese taal en selektiewe data om sy mislukkings toe te smeer in stede daarvan om die probleme daadwerklik en verantwoordbaar te hanteer.
Mangaung is vasgevang in ʼn vernietigende siklus van wanbestuur wat lei tot die verlies aan nasionale voorwaardelike toekennings en ontoereikende dienslewering.
Diepgewortelde finansiële en administratiewe wanfunksionering het die afwaartse aanpassing van diensleweringsteikens genoodsaak wat die gehalte en omvang van dienste aan inwoners in die komende jaar direk gaan beïnvloed.
Die VF Plus het skerp kritiek uitgespreek teen misleidende statistiek in die hersiene SDBIP wat onder meer aandui dat 95% van huishoudings in informele nedersettings sedert Julie 2023 basiese vullisverwyderingsdienste ontvang. Dit is bloot nie die geval nie.
Die vae syfers in die SDBIP beteken ook niks sonder konkrete bewyse en konteks nie.
Die party eis dat die metro volle verantwoordelikheid neem vir die wanbestuur wat tot die verlies van voorwaardelike toekennings lei en dringend maatreëls instel om die verlies van toekomstige toekennings te verhoed.
Die VF Plus bly daartoe verbind om te veg vir ’n munisipaliteit wat met integriteit, deursigtigheid en aanspreeklikheid dienste lewer. Die tyd vir verskonings is verby.


