Druk van die VF Plus het die vergete dorp van Viljoenskroon teruggeplaas op die dienslewerings-agenda van die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad, Renovaal, Steynsrus, Vierfontein, Viljoenskroon).
Viljoenskroon se pad-, water- en rioolinfrastruktuur is jare reeds in ‘n haglike toestand en dit is alledaags dat riool in strate en deur erwe en huise vloei.
Ontstoke inwoners van Viljoenskroon het op 18 Maart opgeruk na die munisipaliteit se kantore in Kroonstad om hul griewe te lug oor die swak dienslewering aan Viljoenskroon.
Die VF Plus het ook op versoek van inwoners ‘n oorsigbesoek aan Viljoenskroon gebring.
Tydens die besoek is gevind dat die pype wat onverwerkte riool na die rioolaansuiweringsaanleg moet vervoer, so poreus is dat rioollekkasies die aangrensende kleinhoewe besoedel.
‘n Nabygeleë vleiland is ook besoedel en skep ‘n omgewingsgevaar vir mens en dier.
Sommige inwoners het al – vermoedelik weens die rioollekkasies – lugwegprobleme ontwikkel terwyl ander inwoners hul huise van die munisipale rioolnetwerk laat verwyder het om te voorkom dat riool terugvloei in hul huise.
Die VF Plus het na afloop van die besoek ‘n verslag aan die Moqhaka-munisipaliteit oorhandig waarin dringende optrede en ingryping geëis word.
Die munisipaliteit het ‘n vakuumpomptrok bewillig om die rioolkrisis tydelik te probeer oplos totdat ‘n volhoubare oplossing gevind word.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Sonnyboy Mokhatle, het die VF Plus ingelig dat daar vandag begin is met die instandhouding van die rioolaanleg.
Dit is onaanvaarbaar dat ‘n munisipaliteit nie bewus is van die ware toedrag van sake op die dorpe wat hy bedien nie.
Dit bevestig opnuut die VF Plus se standpunt dat groter, gesentraliseerde munisipaliteite nie die oplossing vir swak dienslewering is nie.
Munisipaliteite moet verklein word om dienslewering nader aan inwoners te bring.
Die VF Plus sal voortgaan om die situasie in Viljoenskroon te monitor en sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om sy beloftes van beter dienslewering na te kom.