fbpx
Vryheidsfront Plus

Swellendam se beoogde tariefverhogings hou nie rekening met inwoners se finansiële vermoëns

Die beoogde tariefverhogings in die Swellendam-plaaslike munisipaliteit (Barrydale, Buffeljagsrivier, Infanta, Malagas, Suurbraak, Swellendam) se konsepbegroting vir die 2022/23-finansiële jaar hou nie rekening met die finansiële vermoëns van die gemeenskap wat hy bedien nie.

Baie van Swellendam se inwoners is pensioenarisse en werkers uit die lae inkomstegroepe.

Die Covid-19-inperkings het ook baie van die inwoners gedwing om ‘n verminderde salaris te aanvaar en ondernemings moes hulle deure sluit.

Verder is daar ‘n groeiende informele nedersetting en die gepaardgaande behoefte aan dienslewering wat ‘n klein munisipaliteit soos Swellendam nie kan bekostig nie.

Alhoewel die VF Plus nie die konsepbegroting steun nie, is van Swellendam se voorgestelde tariefverhogings – weens druk van die VF Plus om eerder kostes te besnoei as om net die belastingbetaler swaarder te belas – nie so ekstreem soos by sommige ander munisipaliteite nie.

Die tariefverhogings is soos volg:

• Elektrisiteit : 8,61% onderhewig aan die goedkeuring van Nersa
• Water : tussen 6% tot 12% afhangende van blokke
• Sanitasie : 6%
• Water : 7,8%
• Eiendomsbelasting : 8%

Die beoogde kragtariefverhoging is ver bo Nersa se voorstel dat munisipaliteite hul kragtariewe van 1 Julie met 7,47% verhoog en die VF Plus sal dit teenstaan.

‘n Verdere slag vir getroue belastingbetalers is dat die 20kWh gratis elektrisiteit wat huishoudings ontvang gaan wegval terwyl hulpbehoewende huishoudings nou 6kl water en 50kWh elektrisiteit gratis gaan ontvang.

Terwyl inwoners gebuk gaan onder ernstige watertekorte weens die munisipaliteit se onvermoë om genoeg water te behandel vir gebruik en die gebrek aan beheer oor onwettige waterverbruik en koppelings, word die watertariewe met tussen 6% en 12% verhoog.

Die verval van Swellendam onder die DA die afgelope elf jaar moet omgekeer word. Die VF Plus moedig inwoners aan om hul demokratiese reg uit te oefen en deel te neem aan die openbare deelname-prosesse om insette te lewer voor die konsepbegroting op 1 Julie in werking tree.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.