fbpx
Vryheidsfront Plus

Hofuitsprake wys dat toestemming om na olie en gas in die Noord-Kaap te soek, herbesoek moet word

Dit is onaanvaarbaar dat die regering nieteenstaande twee onlangse hofuitsprake oor dieselfde aangeleentheid, steeds toestemming aan ‘n maatskappy gegee het om in die Noord-Kaap na olie en gas te soek.

Die antwoord lê waarskynlik daarin dat die betrokke maatskappy, Tosaco Energy, in vennootskap besit word deur ‘n swartbemagtigingsmaatskappy en Total Suid-Afrika.

Tosaco Energy het toestemming van die departement van minerale bronne en energie en die Petroleumagentskap van Suid-Afrika gekry om seismiese toetse te doen tussen Alexanderbaai en Hondeklipbaai in die Noord-Kaap.

Vandag is die geleentheid wat die publiek en belanghebbendes het om teen die toetsing beswaar aan te teken.

Dit is vir die VF Plus belangrik dat mense hulle hierteen uitspreek aangesien dit blyk dat die situasie dieselfde is as in die geval van Searcher Seismic in die Wes-Kaap en Shell aan die Wildekus waar voorgeskrewe prosesse soos behoorlike impakstudies en openbare deelname nie na behore gevolg is nie.

In beide gevalle het die howe bevind daar kan nie met eksplorasie voortgegaan word nie om regsekerheid oor die nakoming van die prosesse te kry.

Onlangse uitsprake van die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantasha, maak dit ook duidelik dat die regering hardnekkig is in sy siening oor eksplorasie.

Min. Mantashe het ‘n maand gelede in die Oos-Kaap aan tradisionele leiers gesê hy is “vasbeslote” om petrochemiese maatskappye toe te laat om na olie en gas te soek omdat dit sal help om die land se ekonomie te ontwikkel.

Die onlangse hofuitsprake maak dit duidelik dat die regering so vasbeslote is om daarmee voort te gaan, dat wetlike voorskrifte en prosesse nie nagekom word nie.

In al drie gevalle behoort daar opnuut 'n omgewingsimpakstudie gedoen te word.

Seismiese ondersoekmetodes om vas te stel of olie- en gasreserwes onder die seebodem teenwoordig is, klink skadeloos.

Waarop dit egter neerkom, is dat 'n skip heen-en-weer oor 'n gebied van sowat sesduisend vierkante kilometer beweeg en met kort tussenpose klankskote afvuur.

Gespesialiseerde toerusting volg die beweging van klankgolwe en vorm 'n beeld van wat onder die seebodem aangaan. Dit beteken dat die gebied vir 'n tydperk van maande soos 'n slagveld klink met gevolge vir die seelewe wat nog nie duidelik is nie.

Min. Mantashe het herhaaldelik beweer dat geen wetenskaplike bewys bestaan dat seismiese eksplorasie skadelik vir die seelewe is nie. In teenstelling hiermee het die Academy of Sciences in South Africa (Assaf, 'n entiteit van die departement van wetenskap en innovasie) onlangs die teendeel verklaar.

In 'n verklaring in Januarie vanjaar het die instansie se Scientific Advisory Group on Emergencies (Sage) met stelligheid verklaar dat seelewe wel deur hierdie soort ondersoeke benadeel word.

In 'n wêreld wat vir al sy energiebehoeftes van ru-olie en aardgas afhanklik sou wees, sou 'n risiko van hierdie aard moontlik regverdig kon word.

Die werklikheid is dat hernubare energie, veral in die produksie van groen waterstof, groot belofte toon om die moderne ekonomie se afhanklikheid van fossielbrandstowwe te beëindig.

Tans is ‘n bewese voorraad ru-olie vir die wêreld na raming voldoende vir die volgende 47 jaar en aardgas vir nog 52 jaar. Die ontdekking van nuwe olie- en gasvelde het dus nie dieselfde dringendheid as selfs enkele dekades gelede nie.

Dit is van dwingende belang dat toestemming vir die Noord-Kaapse projek, soos in die ander twee gevalle, herroep word en opnuut aan ondersoek onderwerp word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Armand Cloete

Premier moet ingryp by Matjhabeng-waterkrisis

Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia,

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.