Die kantoor van die munisipale bestuurder van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein), het vandag ontken dat die munisipaliteit in besit is van ‘n forensiese verslag wat reeds in 2016 onreëlmatige besteding van R1,8 miljard by die munisipaliteit uitgewys het.
Noordwes se provinsiale departement van finansies het die maatskappy Open Water Risk Solutions in 2015 aangestel om finansiële ongerymdhede in die Matlosana-munisipaliteit te ondersoek.
Hierdie ontkenning volg op ‘n aansoek wat die VF Plus Dinsdag aan die munisipaliteit gerig het om ‘n afskrif van die finale forensiese verslag te kry. Die aansoek is gebring in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia).
Die munisipale bestuurder, Roger Nkhumise, ontken verder dat daar in enige stadium enige vorderingsverslag in die Matlosana-munisipale raad gedien het.
Dít nadat ‘n opsomming van die forensiese verslag op 22 September 2016 wel voor die raad gedien het.
Die VF Plus het sedert 2016 herhaaldelik versoek dat die finale verslag aan alle belanghebbendes geopenbaar word.
Die versoek is ook tydens ‘n oorsigbesoek van die parlementêre komitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in 2021 aan die munisipaliteit herhaal. Tot op hede is geen terugvoer oor die verslag ontvang nie.
Dit blyk duidelik uit die optrede van die munisipaliteit dat daar gepoog word om ‘n sluier van geheimhouding oor die onthullings van ongerymdhede in die finale forensiese verslag te trek.
Daar was sedertdien ook geen waarneembare optrede teen enige senior amptenare om hulle verantwoordbaar te hou vir die enorme wanbesteding in die munisipaliteit nie.
Die VF Plus is tans ook in die proses om ‘n Paia-aansoek voor te berei om op Noordwes se provinsiale departement van finansies te dien om die finale forensiese verslag te bekom.
Die minister van Cogta, Nkosazana Dlamini Zuma, sal ook in die parlement versoek word om toe te sien dat die inligting beskikbaar gestel word.
Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas op alle regeringsvlakke om te verseker dat korrupte amptenare en politici aanspreeklik gehou word vir die stroping van belastingbetalers se geld.


