(Begrotingsdebat in Vrystaat-wetgewer: Polisie, paaie en vervoer)
Die verval van Vrystaatse paaie sal slegs aangespreek word indien die Vrystaatse regering kundige kontrakteurs aanstel en meer geld daarvoor begroot.
Die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, William Bulwane, het Donderdag in sy begrotingsrede die skuld vir die swak toestand van paaie in die provinsie op Jan van Riebeeck geplaas.
Die realiteit is egter dat jare se swak instandhouding en onstabiliteit in die departement die oorsaak vir die swak toestand van paaie is. Die departement het reeds vir etlike jare slegs waarnemende departementshoofde en word nou deur die tweede LUR sedert 2019 gelei.
Die ANC-regering se prioriteite en beleidsrigtings is verkeerd.
Dié departement is veronderstel om die grootste inkomstebron vir die provinsie en ook die ruggraat van ekonomiese ontwikkeling te wees, maar kry slegs 7% van die totale provinsiale begroting van R2,79 miljard.
Indien die provinsie se paaie verder verval, sal alle sektore, insluitend die ANC-regering se prioriteitsektore (onderwys en gesondheid) misluk.
Die provinsie verloor R107 miljoen se voorwaardelike toekennings vir paaie vanaf die nasionale regering in die 2022/2023-finansiële jaar weens kontrakteurs wat nie projekte kon afhandel nie. Die departement is tans met hofsake besig om die geld van dié kontrakteurs terug te win.
Dit kon voorkom gewees het indien die ANC minder behep was met Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en eerder kundige kontrakteurs aangestel het.
Die ANC het eenvoudig nie meer antwoorde vir die provinsie se paaie nie. Die VF Plus sal egter aanhou om die regerende party verantwoordelik te hou vir die verval van die Vrystaat se paaie.