Stakende gesondheidswerkers by die Potchefstroomse hospitaal het tydens ‘n onwettige staking die afgelope twee dae chaos veroorsaak en dienste erg ontwrig.
Rommel is in die gange en op die terrein gestrooi nadat die onwettige stakers die perseel en hospitaal betree het.
Die stakers voer onder meer aan dat hulle geregtig is op prestasie-belonings weens hul dienste gelewer tydens die Covid-19-pandemie.
Die VF Plus het geskakel met mnr. Madoda Sambatha, die LUR vir gesondheid in Noordwes, en geëis dat ferm teen die stakers opgetree word.
Daar kan nie toegelaat word dat gesondheidswerkers met gewaande griewe en selfdienende eise die gesondheid van pasiënte bedreig deur hul onwettige optrede nie.
‘n Hospitaal behoort ‘n veilige hawe in ‘n kliniese omgewing te wees waar pasiënte se belange eerste gestel word. Hierdie stakers is ‘n klad op die naam van gesondheidswerkers in die staatsektor.
Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas om seker te maak dat die departement van gesondheid die volle mag van die arbeids- en ander wetgewing toepas om ‘n herhaling van hierdie voorval te voorkom.