Veediefstal in Suid-Afrika is buite beheer en die polisie verloor die stryd om dit behoorlik te ondersoek. Dit kom duidelik na vore uit die antwoord op ‘n parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, aan die minister van polisie, Bheki Cele. (Antwoord van min. Cele hierby aangeheg.)
Veeboerdery is ‘n integrale deel van die landbousektor en veediefstal knou veeboere. Die onvermoë van die polisie om veediefstalsake op te los, beteken dat veediefstal buite beheer is.
Volgens die antwoord van die minister is 26 923 veediefstalsake in die tydperk van 1 April 2021 tot 28 Februarie 2022 by veediefstaleenhede aangemeld. Van hierdie sake is slegs 7 800 of 28,9% opgelos.
Klagtes van boere is dat sommige veediefstaleenhede nie genoeg lede het nie, asook ‘n tekort aan voertuie en ‘n gebrek aan kundigheid.
Korrupsie speel ook ‘n groot rol en daar is bewerings dat senior offisiere in die polisie self betrokke is by diefstalsindikate.
Die provinsie met die meeste klagte in die betrokke tydperk was KwaZulu-Natal met 7 227 aangemelde sake, gevolg deur die Oos-Kaap met 5 533 sake.
Die provinsie met die swakste oplossingsyfer is Limpopo met slegs 16,5% sake wat opgelos is, gevolg deur Gauteng met ‘n oplossingsyfer van 16,9%.
Daar sal drasties opgetree moet word en die nuwe kommissaris van polisie, genl. Fannie Masemola, sal moet sê watter stappe hy gaan neem om die probleem op te los.
Ek sal ook verdere vrae in die parlement vra oor die vermoëns van die veediefstaleenhede.


