Vordering met die openbare deelnameproses van die Basiese Onderwys-Wysigingswetsontwerp (Bela Bill) is vandag met die parlementêre portefeuljekomitee gedeel.
Die proses het nog nie ‘n aanvang geneem nie, aangesien kwotasies vir reklame uitstaande is. Nogtans is openbare verhore tot Maart 2023 geskeduleer, waarna die wetsontwerp nog deur al nege provinsiale wetgewers bespreek moet word.
Aangesien die wetsontwerp reeds verouderd is, behoort hierdie koste gespaar te word totdat dit grondig hersien is.
Die probleem met die wetsontwerp is beide prakties en ideologies van aard. Ideologies gesproke word onderwysbestuur uit die hande van gemeenskappe gehaal en in dié van amptenare geplaas.
Prakties gesproke is alternatiewe vorme van onderwys, soos mikroskole, aanlynskole, asook kombinasies daarvan met tradisionele skole, in hierdie wetsontwerp onsigbaar. Dit is waarom dit as verouderd bestempel word.
Terwyl gewag word op die portefeuljekomitee om sy proses aan die gang te kry, kan ouers en ander belanghebbendes die VF Plus se aksie teen die wetswysiging steun by die volgende skakel: (https://forms.gle/B1tMxeumemvdyiAcA). Die volledige teks van die wetsontwerp kan hier gelees word: (https://www.parliament.gov.za/bill/2300398)
Intussen het die VF Plus tydens die vergadering van die portefeuljekomitee voorgestel dat die wetsontwerp eers op grondige wyse klousule-vir-klousule in die komitee bespreek word, sodat noodsaaklike wysigings aangebring kan word.
Die dele wat met tuisskole handel, behoort verwyder te word, sodat 'n aparte wet die praktyk van alternatiewe onderwys kan reguleer. Dit lyk egter of ANC-lede met die huidige proses wil voortgaan.
Die VF Plus meen steeds dat die klok op die Bela Bill gelui moet word.
Bela Bill: Dit torring aan die skikking van 1994
Dr. Wynand Boshoff: VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor Basiese Onderwys
Die basiese onderwys-wysigingswetsontwerp is tans in proses. Dit is die eerste keer in 2017 gepubliseer en het deur die vereiste openbare deelnameproses gegaan.
Na aanleiding daarvan is dit aangepas en laat verlede jaar na die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys gebring. Hier word nog ’n openbare deelnameproses beplan omdat die saak so omstrede is.
Maar waarom is dit omstrede?
Die bevoegdhede van skoolbeheerliggame trek in hierdie opsig die meeste aandag. Tans kan beheerliggame die taalbeleid, toelatingsbeleid en gedragskode van ’n skool bepaal. Indien hierdie wetsontwerp wet word, doen die provinsiale departementshoof dit.
Nog iets wat ons seker met die oorlaaide woord “alternatief” kan beskryf, is ook belangrik: Tuisskole ken mens lankal en aanlynklasse het skielik met die grendelstaat ’n algemene ding geword – selfs aanlynskole. Dan is daar mikroskole waar ’n paar gesinne saam ’n tuisskool bedryf, of meer geformaliseer byeenkom om skool te gee.
In landelike omgewings is een van die “alternatiewe” maniere van onderwys gee vir sommige die verskil tussen ’n huislike omgewing waarin kinders grootword, of koshuise ver van die huis af vanaf ‘n vroeë ouderdom. As dit van die wetsontwerp afhang, sommer al vir vyfjariges – want graad R raak verpligtend.
Vir sommige mense wat dalk reg oorkant ’n beroemde skool woon, is “alternatiewe” onderwys ook van belang. Die ouers glo dalk in ’n heel ander vorm van opvoeding waar skole met gereglementeerde grade en afgebakende vakke plek maak vir leer deur te doen; die wêreld as jou klaskamer.
Of dalk is hulle nie só avant-garde of vernuwend nie, maar verkies buitelandse kwalifikasies en leerplanne bo die ideologies gedrewe kurrikulumverklaring van die Suid-Afrikaanse departement van basiese onderwys.
Die punt is, hierdie alternatiewe is die werklikheid vir tienduisende kinders van skoolgaande ouderdom. Maar vir die wetsontwerp bestaan hulle nie, want net drie vorme van onderwys word erken: Openbare skole, onafhanklike skole en tuisskole.
Openbare skole hoef nie by ’n regulerende liggaam te registreer of akkrediteer nie, want dit is die departement se eie skool. Puttoilette en lekkende dakke en al. Onafhanklike skole moet deur Umalusi se streng regulering gaan, wat beteken alles moet tip-top wees. Van seep by wasbakke met warm en koue water in kleedkamers (en nie te veel kinders vir die aantal toilette nie), tot ’n beleid vir elke moontlike gebeurlikheid, op lêer en dadelik beskikbaar.
Tuisskole moet ook registreer. Volgens die wetsontwerp nie regtig registreer nie, meer lisensieer. Twee gesinne wat saam ’n tuisskool bedryf is nie ’n tuisskool nie, dis ’n onafhanklike skool. Só sal die wet dit reël indien hierdie wet word.
Alle dokumentasie en geriewe wat van ’n volskaalse onafhanklike skool verwag word, sal van die twee gesinne verwag word.
Die wetskrywers het dalk nie so oor “alternatiewe” onderwys gedink nie. Hulle het dalk glad nie daaroor gedink nie. En dit is die tweede probleem wat baie aandag trek: Die wet is eenvoudig verouderd nog voordat dit wet is.
Daar is nog iets en dit kry min aandag: Hierdie wetsontwerp torring die politieke skikking van 1994 verder uit. In prof. Koos Malan, ‘n kundige op die gebied van publiekreg, se woorde: “Dit wysig die land se konstitusie sonder om aan die grondwet te raak”.
In die onderhandelingsproses van die jare 90 was “gemeenskapslewe” ’n belangrike kwessie. In 1992 het die NP selfs die selfvertroue gehad om in ’n referendum-plakkaat “Eie skole Eie woongebiede” te beloof. Op die end het hulle die aandrang op “minderheidsregte” laat vaar, omdat “individuele regte die beste waarborg vir minderheidsregte” sou wees. Met daardie aanspraak is mense ook in 1994 gevra om NP te stem – en die meeste Afrikaners het ook.
Om “eie woongebiede” te laat realiseer, was uit die staanspoor ’n verlore saak, maar met “eie skole” was daar meer sukses. Dit het so gewerk:
Dat daar slegs een skoolstelsel met gelyke besteding op skole en een leerplan moes wees. Wat wel toegegee is, is dat elke gemeenskap beheer oor sy gelyke skool kon hê. Die SA Skolewet van 1996 het dus nie na staats- en private skole verwys nie, maar na openbare- en onafhanklike skole.
’n Openbare skool se grond en geboue behoort wel aan die staat, onderwysers word volgens ’n getalgegronde formule deur die staat aangestel, daar is net een nasionale kurrikulum, maar verder sou die skoolbeheerliggaam (SBL) wye magte hê om te besluit wat in ’n skool aangaan en wat dit kos om daar te wees.
So het ’n heel nuwe onderwyskultuur in Suid-Afrika ontstaan, waar skole hul “etos”, “kultuur” en “waardes” naas sport- en akademiese prestasie gebruik om kinders (nou leerders of dalk kliënte) te lok. Die vermenging tussen kulturele-, opvoedkundige- en kommersiële oorwegings, het inderdaad voortreflike skole tot gevolg gehad.
Die gemeenskap wat die skool bedien en waardeur dit gevul word, is nie meer geografies soos tevore nie, ook nie rasgegrond nie, maar wel op wat jy wil hê en of jy dit kan bekostig. Dit was so naby as mens aan eie skole kon kom en die nuwe Suid-Afrika was verteerbaar naby genoeg aan die oue, sodat onversetlikes hulle tog maar met die nuwe bedeling versoen het.
Skoolbeheerliggame se uitgebreide bevoegdhede was dus ’n belangrike deel van die 1994-skikking. En dit is wat met die Bela Bill verander word. Die staat is uiteindelik moeg vir skoolbeheerliggame wat staatsfondse gebruik (al word dit mildelik uit eie bronne aangevul en uitstekend bestuur) en hul eie ding daarmee doen.
Daarom sal die departementshoof die belangrike besluite neem en die SBL kan besluit of hulle pannekoek of hamburgers op die kerkmis verkoop. Dit is die skikking wat verbreek word.
Baie mense praat van ’n opvolgskikking. Hulle moet oplet: Die opvolgskikking ontvou voor ons oë. En dit is nie beter nie.