Die vandalisering van openbare geboue is een van die grootste kopsorge in die rustige omgewing van die Hantam-plaaslike munisipaliteit (Brandvlei, Calvinia, Loeriesfontein, Middelpos, Nieuwoudtville, Onderste Doorns).
In 'n belangrike verwikkeling hieroor het gemeenskappe oor tradisionele grense heen hande gevat om hierdie euwel die hoof te bied.
Die doel is om die dorpe aantreklik vir beleggers te maak. Dorpe wat goed lyk, sal beleggings lok tot voordeel van alle inwoners.
In geboue wat leegstaan, byvoorbeeld ou hospitale, koshuise en munisipale woonhuise, word alles van waterpype en ligte tot deure geplunder.
Dieselfde geld geboue by munisipale sportgronde en skouterreine. Boonop is polisiëring swak, wat die probleem vererger.
Dwelmmisbruik onder kinders van skoolgaande ouderdom dra by tot die probleem.
Hierdie situasie is tydens verskillende gemeenskapsvergaderings uitgelig en die positiewe gevolge was verrassend.
‘n Welkome verwikkeling is dat 'n groep militêre- en polisieveterane, wat hulself kultureel as Griekwa-leierskap aanbied, met die buurtwag van Calvinia geskakel het om hande te vat.
Indien alle gemeenskappe in die Hantam wetstoepassing koördineer, kan hierdie soort probleme hokgeslaan word. Buurtwagte is die ideale struktuur daarvoor, omdat opleiding en toerusting met die opvolg van voorvalle gekombineer kan word.
In die Hantam is vandalisme almal se probleem en dit moet saam bestry word.