Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Van verval na vernuwing: Wolmer se huise kry nuwe baadjie

Die VF Plus se gemeenskapsprojek in samewerking met die Wonderpark-winkelsentrum het Vrydag sigbare vorm aangeneem toe die eerste huis in Wolmer se behuisingskema helder oranje geverf is.

Die doel van die projek, wat aan die begin van die jaar van stapel gestuur is, is om die lewensgehalte van inwoners in Wolmer, ’n gemeenskap wat reeds vir jare onder armoede en haglike woonomstandighede gebuk gaan, te verbeter.

Die 294 huurhuise wat aan die Tshwane-behuisingsmaatskappy behoort, is in ’n vervalle toestand en benodig dringende en omvattende herstelwerk.

Die VF Plus kon nie langer toekyk hoe inwoners in hierdie omstandighede leef nie en het verskeie ondernemings genader vir borgskappe.

Die Wonderpark-winkelsentrum het na vore getree met ’n skenking van R150 000, terwyl ’n kontrakteur sy dienste kosteloos aangebied het.

Dit het die pad gebaan vir noodsaaklike herstelwerk aan verskeie huise, asook die gebruik van helder kleure om ’n unieke en positiewe karakter aan die woongebied te gee.

’n Straat is geïdentifiseer en ’n volledige kosteberaming is gedoen. Die herstelwerk sluit in die vervanging van vensters en deure, die seël en verf van dakke, houtbehandeling aan Wendy-huise en uiteindelik die verf van die huise self.

Ten einde die projek doeltreffend te bestuur, is ’n gemeenskap-opheffingsgebied-maatskappy en ’n nie-winsgewende organisasie gestig, met drie direkteure wat verantwoordelik is vir die implementering en monitering van die projek.

Die VF Plus in Pretoria is trots daarop om ’n tasbare verskil te maak in die lewens van ’n gemeenskap wat afhanklik is van ondersteuning.

Met verdere borgskappe aan boord, kan al 294 huise opgeknap word en die waardigheid van inwoners herstel word.

Die VF Plus spreek ook sy dank uit teenoor Marli Strauss, bemarkingsbestuurder van die Wonderpark-winkelsentrum en Renato Brusaporcol, direkteur van Den Donix, vir hul waardevolle betrokkenheid by die projek.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.