Dit is ironies dat die middestad van Kemptonpark as deel van die Ekurhuleni-metro se sogenaamde “CBD Revitalisation Programme” onder leiding van die burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, skielik aandag kry so kort voor die G20-beraad.
Die burgemeester en die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoerbeplanning, Andile Mngwevu, het Vrydag ʼn oorsigbesoek aan die sakekern gebring.
Die agteruitgang van Kemptonpark se middestad het nie oornag ontstaan nie. Dit is die gevolg van jare se verwaarlosing, swak bestuur en die versuim om stadsverordeninge af te dwing en infrastruktuur te onderhou.
Inwoners en sakelui vra al lank vir ingryping, maar hul bekommernisse is tot dusver geïgnoreer.
Vrydag se klopjag teen oortreders van munisipale verordeninge wat tot winkelsluitings, inhegtenisnemings en beslagleggings gelei het, is in beginsel ’n goeie stap, maar dit moet deel vorm van ’n volgehoue strategie regdeur die hele metro en nie net waar die TV-kameras rol nie.
Die VF Plus vra ook wat van die metro se ander sakekerne soos Germiston, Boksburg, Benoni, Springs en Brakpan, wat onder dieselfde verval gebuk gaan en waar geen soortgelyke ingrypings plaasgevind het nie.
Dit wil voorkom of die fokus op Kemptonpark bloot is omdat dit naby aan die O.R. Tambo Internasionale Lughawe geleë is en dus in die oog van internasionale besoekers tydens die G20-beraad gaan wees.
Die VF Plus waarsku teen oppervlakkige beeldpoetsery om ’n goeie indruk te skep, eerder as om volhoubare dienslewering te verseker.
Die VF Plus dring daarop aan dat die metro toesien dat hierdie sogenaamde herlewing ’n blywende, breë hervormingsinisiatief word.
Dit moet onder meer behels dat verordeninge deurlopend afgedwing word in alle sakesentrums regoor Ekurhuleni. Infrastruktuur moet gereeld herstel en in stand gehou word en sigbare polisiëring, tesame met vennootskappe, moet die middestede veiliger maak.
Verder moet daar werklike ondersteuning gebied word aan wetsgehoorsame handelaars en ondernemings wat reeds hul deel doen om die ekonomie aan die gang te hou.
Inwoners en sakelui verdien elke dag skoner, veiliger en beleggingsvriendelike sakesentrums en nie net wanneer die wêreld toekyk nie.


