Die VF Plus is bekommerd oor die aanhoudende kragonderbrekings sedert die naweek oor groot dele van Boksburg, insluitend Jet Park, Witfield, Comet, Boksburg-Noord en omliggende gebiede.
Die oorsaak was blykbaar ’n poging tot kabeldiefstal op een van die stad se 132kV-hooflyne naby die N12, waartydens die infrastruktuur ernstig beskadig is.
Wat die toestand vererger, is die swak kommunikasie en gebrek aan deursigtigheid van die Ekurhuleni-metro tydens hierdie krisis.
Ten spyte van talle versoeke het die metro se span aanvanklik die VF Plus se pogings om die ware rede vir die onderbreking te bevestig, eenvoudig geïgnoreer. Eers ná druk van raadslede is uiteindelik bevestig dat kabeldiefstal die probleem veroorsaak het en dat herstelwerk vertraag word omdat die misdaadtoneel in ‘n Sanral-servituut is.
Volgens die metro is ’n tydelike ladingsrotasiestelsel ingestel tussen 08:00 en 17:00, waar Jet Park aanlyn bly terwyl ander gebiede, insluitend Witfield, Comet, Boksburg-Noord en die OR Tambo-hospitaal sonder krag gelaat word.
Die herstelwerk kan tot vyf dae neem, aangesien strukturele versterking ook benodig word.
Inwoners en ondernemings ly groot verliese weens hierdie voorval, maar dit is die metro se traagheid om behoorlik te kommunikeer en vinnig op te tree wat die grootste woede ontlok.
Dit is onaanvaarbaar dat inwoners en raadslede vir ure in die duister gelaat word – letterlik én figuurlik – terwyl die metro se spanne nie eens bevestiging wou gee oor wat gebeur het nie. Só ’n gebrek aan aanspreeklikheid en kommunikasie is presies waarom vertroue in Ekurhuleni se administrasie bly afneem.
Die VF Plus doen ’n beroep op Ekurhuleni om:
- Onmiddellik ’n deeglike veiligheidsplan te in werking te stel om kabeldiefstal te voorkom, veral by kritieke 132kV-lyne.
- Beter noodkommunikasieprotokolle in te stel sodat raadslede en inwoners betyds en volledig ingelig word.
- Hoekom die metro so lank geneem het om toestemming van Sanral te verkry om met herstelwerk te begin.
Die VF Plus sal hierdie saak by die volgende energie-portefeuljekomitee bespreek en antwoorde eis van die burgemeesterskomiteelid vir energie, Mzayifani Ngwenya.
Die party dring ook aan op ‘n volledige verslag oor die hantering van die voorval, sowel as ’n oorsig van die metro se planne om soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.


