Die tyd het aangebreek vir ‘n omvattende vaardigheidsoudit binne die Johannesburgse metro-administrasie ná die kommerwekkende bewyse van afnemende vermoë en swak prestasie.
Luidens die jongste prestasie-kwartaalverslag van die stadsbestuurder, Floyd Brink, het sewe uit 22 bestuurders nie hul prestasieteikens bereik nie.
Die VF Plus is van mening dat hierdie syfers bloot ‘n simptoom is van ‘n sistemiese tekort aan kritieke vaardighede tot op middelbestuur- en tegniese vlak.
Hierdie krisis kan in ʼn groot mate toegeskryf word aan die grootskaalse vertrek van ervare amptenare en die sogenaamde “ou garde,” wie se institusionele kennis nie voldoende vervang is nie.
Die ANC-geleide administrasie se streng toepassing van sy transformasiebeleid het ‘n ook wanbalans geskep wat vaardige individue uit die Wit-, Indiër- en Bruin-gemeenskappe uitsluit, wat die poel van kundigheid ernstig beperk.
Weens hierdie kapasiteitstekorte het die metro toenemend afhanklik geword van eksterne subkontrakteurs.
Hierdie kontrakteurs is dikwels onvoldoende opgelei, wat lei tot swak vakmanskap, hoër kostes vir belastingbetalers en die volgehoue agteruitgang van kritieke infrastruktuur.
Die VF Plus doen derhalwe ‘n beroep op die Johannesburg-metro om:
• ‘n Volledige en deursigtige vaardigheidsoudit oor alle departemente uit te voer.
• Die aanstelling van gekwalifiseerde en ervare personeel bo politieke oorwegings te prioritiseer.
• Merietegegronde praktyke in te stel om interne vermoë te herstel.
• Afhanklikheid van kontrakteurs te verminder deur interne tegniese kundigheid te herbou.
Inwoners verdien ‘n professionele administrasie wat betroubare dienste kan lewer.
‘n Deeglike vaardigheidsoudit is die eerste noodsaaklike stap om aanspreeklikheid en doeltreffendheid in Johannesburg te herstel.


