Enige persoon wat bereid sou wees om buitelandse beleggings in Suid-Afrika van die hand te wys oor geldige kritiek teen die land se rasgegronde wette en ‘n wet soos die Onteieningswet, moet ook bereid wees om aan werkloses te verduidelik waarom die ekonomie nie groei nie.
Suid-Afrika se ekonomiese situasie is só benard die politieke leiers beswaarlik vir ernstige beleggers soos die VSA en Elon Musk kan sê om hul “neuse uit Suid-Afrika se sake” te hou wanneer hulle voorwaardes vir beleggings stel.
Dit is daarom kommerwekkend dat die DA se nuwe leier, mnr. Geordin Hill-Lewis, vandag in ‘n TV-onderhoud gesê het hy sal nie huiwer om vir die Amerikaanse leierskap en iemand soos Musk te sê om hulle nie met Suid-Afrika se huishoudelike sake te bemoei nie.
Veral mnr. Hill-Lewis se skerp en beledigende uitlatings teenoor pres. Trump en sy administrasie sal nie ongesiens verbygaan nie.
Hy het onder meer gesê: “Ek is geen aanhanger hoegenaamd van Maga of pres. Trump nie. Hy het die wêreld in ‘n baie gevaarlike plek geplaas. Hy (Trump) is om die waarheid te sê veragtelik (reprehensible). Ek het geen tyd vir daardie beleid of administrasie nie”.
Nie Elon Musk of die VSA kritiseer Suid-Afrika sonder meer nie. Hulle maak dit duidelik dat hulle broodnodige vaste beleggings na Suid-Afrika wil bring om die land se ekonomie op sy voete te help en werkloosheid om te keer.
Dit word egter moeilik gemaak deur Suid-Afrika se rasgegronde wette wat dit volgens Musk vir hom onmoontlik maak om in Suid-Afrika te belê. Hierdie wette en beleid is om verstaanbare redes ‘n afskrikmiddel vir beleggers.
Dit is daarom nie korrek om te sê dat die VSA en Elon Musk hul “neuse in Suid-Afrika se sake “steek” nie – nog minder dat wat in Suid-Afrika gebeur hulle nie “aangaan nie” soos die Suid-Afrika se buitelandse ministerie en mnr. Cyril Ramaphosa se kantoor hierdie week gesê het.
Mnr. Musk is moontlik die suksesvolste entrepreneur in die geskiedenis van die wêreld terwyl Amerika die grootste en sterkste ekonomie ter wêreld het. Daarteenoor groei Suid-Afrika se ekonomie teen slegs 1% terwyl opkomende-mark-eweknieë met gemiddeld 4% groei.
Suid-Afrika se beleggingskoers is sowat die helfte van die wêreldgemiddelde is en die gevolg is ‘n falende ekonomie en ‘n werkloosheidsyfer van meer as 30% vergeleke met ’n wêreldgemiddelde van bykans 5%.
Om dit reg te stel, moet Suid-Afrika beleggings lok en wanneer ‘n land soos die VSA en ‘n sakeman soos Musk om goeie rede kritiek uitspreek, moet daar ag op geslaan word. Om hulle te dreig, is nie verstandig nie.
Wat op die spel is, is die oorlewing van Suid-Afrika as ’n demokrasie. Sonder beleggings en werkskepping stuur die land af op ’n nasionale ramp. Populistiese leiers met populistiese uitsprake gaan nie ‘n enkele werk skep nie.
Elke dag wat Suid-Afrika dieper in die ekonomiese moeras insak en steeds wil kies en keur watter belegging aanvaarbaar is, is ’n dag wat die populiste sterker word. Geen ernstige Suid-Afrikaanse leier kan daardie risiko aanvaar nie.


