Die VF Plus het vandag die Gautengse LUR vir omgewingsake, Evan Botha, versoek om onmiddellike en beslissend in te gryp by die voortslepende rioolkrisis in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift).
Die situasie het reeds herhaaldelik oor tyd versleg met ernstige en gereelde oorvloei van onverwerkte riool by die pompstasie in Pine Haven Estates.
Hierdie stortings besoedel vleilande, grondwater en uiteindelik die Krokodilrivier. In ’n verdere voorval het ’n pypbreuk in Tarlton daartoe gelei dat onverwerkte riool in die lug gespuit word, wat ’n ernstige gesondheid- en omgewingsrisiko vir inwoners en die omliggende gebied skep.
Die VF Plus-geleide Gautengse portefeuljekomitee vir omgewingsake het oor ʼn lang tydperk herhaaldelik die munisipaliteit oor die kole gehaal weens grootskaalse rioolstortings, insluitend die ineenstorting van die Percy Stewart-watersuiweringsaanleg. Dit het gelei tot ernstige besoedeling van die Blougatspruit en die Krokodilrivier, asook die sluiting van verskeie toerisme-aantreklikhede in die Wieg van die Mensdom-gebied. Grondwater in dié UNESCO-wêrelderfenisgebied is ook reeds ernstig besoedel.
Verdere voorvalle by die Flip Human-watersuiweringswerke, lekkasies by die Brickvale-pompstasie by Tarlton se dolomietgebiede en riskante oorvloei-infrastruktuur by die dr. Sefularo-behuisingsontwikkeling na die Magaliesrivier by Hekpoort, bevestig ’n patroon van sistemiese mislukking.
Die VF Plus is van mening dat die munisipaliteit nie meer in staat is om sy grondwetlike mandaat na te kom nie. Die party versoek dat die Gautengse departement van omgewingsake ook dringende regstappe neem teen verantwoordelike amptenare en die munisipaliteit.
Dringende administratiewe en strukturele ingryping is nodig om verdere omgewingskade te voorkom.
Volhoubare herstel sal egter slegs moontlik wees met ‘n verandering in regime met doeltreffende bestuur, ʼn professionele administrasie en werklike aanspreeklikheid.
Die VF Plus bly verbind tot ’n oplossing-gebaseerde benadering en sal na die November 2026-munisipale verkiesing ‘n sleutel rol speel in ‘n stabiele koalisie regering wat daarop gemik is om Mogale City op ’n volhoubare herstelpad te plaas.


