Die internasionale organisasie vir die beskerming van minderhede, UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Organization) het vandag in ‘n verreikende stap ‘n mosie van die VF Plus aanvaar om ondersoek te laat doen na onder meer vergrype van die ANC-regering oor ‘n wye spektrum, asook oor gruweldade teen plaasboere in Suid-Afrika.
Die besluit het gevolg op ‘n mosie wat dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, aan UNPO se dertiende algemene vergadering in Edinburgh, Skotland voorgelê het.
Die mosie het ingesluit die aftakeling van die land se ekonomie, korrupsie, magsmisbruik, die marginalisering van minderheidsgroepe, rassepolarisasie en die lot van die boeregemeenskap in Suid-Afrika.
Hier volg die volledige voorlegging:
Die VF Plus spreek sy kommer uit oor die algemene toestand van Suid-Afrika gesien teen die agtergrond van die huidige ekonomiese resessie, hoë vlakke van korrupsie en magsmisbruik deur die regering en die regerende party;
en
betreur die groot toename in die marginalisering van minderheidsgroepe in Suid-Afrika en die deurlopende rassepolarisasie wat deur die Suid-Afrikaanse regering en sy president teen die Afrikaner-minderheid gevoer word;
en
neem kennis van die geweld en gruweldade teen ‘n strategiese minderheidsgroep-onderneming wat nie net vir voedselsekuriteit verantwoordelik is nie, maar ook vir werkskepping, ekonomiese groei en voorspoed vir die hele Suid-Afrikaanse bevolking.
en
Neem kennis van:
Die openbare uitsprake van pres. Jacob Zuma en ander regeringsleiers wat die Afrikaner-minderheid demoniseer;
die president en ander regeringsleiers wat die Afrikaner-minderheidsgroep die skuld gee vir die huidige ekonomiese onrus, werkloosheid en armoede;
die voortgesette strewe van die regering om die onteiening van grond sonder vergoeding te wettig;
die meer as 2 393 plaasmoorde en 14 589 plaasaanvalle wat sedert 1991 plaasgevind het;
die brutale en gewelddadige aard van hierdie plaasaanvalle en moorde;
die vergelykende syfers gemeet aan die internasionale gemiddeld van 7 moorde per 100 000 van die bevolking per jaar: Suid-Afrika het 33 moorde per 100 000 per jaar en 133 per 100 000 per jaar wat boere aanbetref.
die voortgesette pogings van die regering om Afrikaans as 'n taal en 'n medium van onderrig op primêre-, sekondêre- en tersiêre vlak te marginaliseer;
die regering se volgehoue pogings deur wetgewing om Afrikaners (onder die generiese en rassistiese etiket as "wit") uit die arbeidsmag uit te sluit deur die Wet op Billike Indiensneming – Wet 55 van 1998 soos gewysig, wat regstellende aksie-kwotas aan die publiek opdwing. Private sektore moet die nasionale en streeksdemografie weerspieël en sodoende word die reg van Afrikaners – waarvan die meerderheid bekwaam is – om aan die ekonomie deel te neem, 'n leefbare loon te verdien en om die ekonomie te laat groei, ernstig benadeel.
die strewe van die regering om Afrikaners (onder die generiese en rassistiese etiket as "wit") uit die ekonomie uit te sluit uit hoofde van die Wet op die Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging, Wet 53 van 2003 soos gewysig, en die Kode vir Goeie Praktyk wat op die totale ekonomie betrekking het en rassekwotas opdwing in alle openbare en private ondernemings in die vorm van eienaarskapskwotas gegrond op ras waardeur punte behaal word vir die "swartheid" van ‘n onderneming. Hoe meer "swart", hoe meer jy kan sake doen met die regering of groot private ondernemings, hoe meer "wit", hoe kleiner is jou kanse vir besigheid en "swart" aandeelhouding onder 40% diskwalifiseer 'n Afrikaneronderneming om sake te doen met die regering of enige groot onderneming wat die grootste deel van die ekonomiese aktiwiteit in Suid-Afrika uitmaak. Die Kode bevorder totale swart eienaarskap wat Afrikaners se reg tot eienaarskap in besigheid in Suid-Afrika ontken.
Daarom dring UNPO se Algemene Vergadering daarop aan dat:
Die Suid-Afrikaanse regering aan die Handves van Regte van Suid-Afrika moet voldoen, dat sosiale eenheid, minderheidsgroepe se taal- en kultuurregte bevorder word, plaasaanvalle tot 'n prioriteitsmisdaad verklaar word en dat daadwerklike stappe gedoen word om dit stop te sit;
en
dat die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie versoek moet word om 'n volledige ondersoek te hierna te doen om sodoende druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om 'n einde te maak aan hierdie gruweldade.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403


