Die beweerde optrede van twee verkeersbeamptes en sekere polisielede van die Glen Polisiestasie buite Bloemfontein was onaanvaarbaar en ‘n klad op die naam van enige geregsdienaar in die land, het Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, gesê na ‘n voorval waar ‘n vrou Woensdag deur ‘n verkeersbeampte deur die gesig geklap en geteister is op die N1 net buite Bloemfontein.
“Die VF Plus veroordeel die optrede van beide verkeersbeamptes wat in die voorval betrokke was ten sterkste, sowel as die polisielede by die Glen Polisiestasie buite die stad wat glo geweier het om die vrou se verklaring en klag van aanranding te aanvaar.
“Wat die voorval nog meer ontstellend maak is die feit dat die verkeersbeamptes volgens die slagoffers diskriminerend op grond van die vrou se ras opgetree het, deur herhaaldelik te sê dat hulle haar sal ‘wys dat sy nie verhewe is bo die reg omdat sy wit is nie’.
Die VF Plus is in verbinding met die vrou en sal namens haar ‘n klag by die menseregtekommissie indien. Ons sal ook die voorval met die LUR van polisie, paaie en vervoer opneem en het haar aangeraai om ‘n klag by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (OPOD) oor die onbehulpsame polisielede in te dien.
Kontakbesonderhede: 083 743 2042 / 058 625 0064