Dit is duidelik dat oud-president Jacob Zuma martelaar probeer speel deur te sê hy sal nie voor die Zondo-kommissie getuig nie en hy is uitdagend deur te sê hy sal eerder tronk toe gaan as om te getuig.
Deur ook te sê die huidige regering tree op soos die vorige regering, sleep hy apartheid in en speel hy die apartheidskaart.
Met hierdie poging probeer Zuma die aangeleentheid verpolitiseer en dit sal die spanning binne die ANC aansienlik verhoog. Die faksiegevegte in die ANC sal hierdeur op die spits gedryf word.
Indien Zuma so onskuldig is as wat hy voorgee, kan hy dit maklik maak vir homself en vir die land deur te gaan getuig voor die kommissie waar hy sy onskuld kan bewys.
Die VF Plus se siening is dat Zuma vervolg moet word en tronk toe moet gaan indien hy dit verkies om só die prys te betaal vir die wandade waarby hy betrek word.
Die belastingbetalers van Suid-Afrika het reeds ‘n duur prys betaal vir dié oud-president se optrede waar hy toegelaat het dat belastinggeld geplunder word.
Die tyd het daarom aangebreek dat hy ook die prys betaal vir sy optrede.