Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tshwane-stadsrede: Glansgeleentheid terwyl inwoners onder finansiële druk verkeer

Die burgemeester van die Tshwane-metro, Nasiphi Moyo, se besluit om vanjaar se stadsrede by Unisa met oordadige glans en swier aan te bied, is ’n skreiende verontagsaming van die metro se ernstige finansiële verval.

Terwyl die metro tegnies bankrot is, word derduisende rande vermors op ’n ydelheidsprojek wat geen verbetering in dienslewering bring nie. Hierdie onnodige vertoon plaas ’n onaanvaarbare las op die reeds oorbelaste belastingbetalers en toon dat die burgemeester alle voeling met die werklikheid verloor het.

Moya beweer dat haar koalisie die metro in ’n beter toestand geplaas het as toe hulle dit oorgeneem het. Die werklikheid is egter anders. Dienslewering is op die swakste vlak ooit. Sy ontken selfs dat daar ’n waterkrisis in Pretoria is, terwyl Hammanskraal steeds nie oor skoon drinkwater beskik nie.

Die befondsde begroting word as ’n klug beskryf, veral in die lig van die ouditeur-generaal (OG) se verslag wat ’n invorderingskoers van slegs 83% toon teenoor die beweerde 90%. Hoewel die burgemeester verbetering in kontantreserwes aanvoer, swyg sy oor die uitstaande krediteure wat meer as R5 miljard beloop – hoofsaaklik Eskom en Rand Water.

Die metro het onlangs ’n rekeningkundige surplus van sowat R2,6 miljard gerapporteer. Die publiek moet egter onderskei tussen hierdie “papierwins” en werklike kontantvloei. Die siklus is begin met ’n oordrag van R2,5 miljard onbetaalde skuld, wat steeds soos ’n berg op die balansstaat druk.

Ten spyte van die gerapporteerde surplus bly die kostedekkingsverhouding kritiek laag op slegs 0,1 maand wat beteken die metro het genoeg vloeibare reserwes om slegs sowat drie dae te oorleef indien invordering sou vasval.

Deur nie krediteure binne die voorgeskrewe 30 dae te betaal nie, stapel die metro boonop honderde miljoene rande aan renteboetes op – vrugtelose en verspilde besteding wat enige teoretiese surplus uitkanselleer.

Vanuit die VF Plus se perspektief is die burgemeester se groeidoelwit van 3,9% ’n gevaarlike afleiding sonder onmiddellike en aggressiewe fiskale hervorming.

Beloftes van R86 miljard lewer mooi koerantopskrifte, maar betaal nie Eskom-rekeninge nie en herstel nie gebarste pype nie.

’n Wêreldklas-ekonomie kan nie op ’n bankrot fondament gebou word nie. Beleggers sal nie hul kapitaal waag in ’n metro waar basiese dienslewering ’n daaglikse dobbelspel is en die skuldlas steeds toeneem nie.

Groei is nie ’n wonderwerk nie, maar die gevolg van ’n munisipaliteit wat sy belastingbetalers dien, sy industriële spilpunte beskerm en ’n skoon oudit bo politieke spel stel.

Die VF Plus sal dringend ondersoek instel na die werklike koste van hierdie stadsrede en of dit die geld werd was.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.