Die VF Plus het die Langeberg-plaaslike munisipaliteit (Ashton, Robertson, Montagu, Bonnievale, McGregor) versoek om die jongste munisipale eiendomswaardasieproses te hersien en ’n nuwe waardasierol uit te reik.
Hierdie waardasierol, wat bedoel is om vir die vyfjaar-tydperk van 1 Julie 2026 tot 30 Junie 2031 geldig te wees, gaan mank aan ernstige prosedurele gebreke. Tydens ’n onlangse raadsvergadering het VF Plus-raadslede probleme rakende die waardasierol uitgewys.
Talle inwoners het ook geen amptelike kennisgewings ontvang dat die rol ter insae lê nie. Dit het tot gevolg gehad dat die tydperk vir besware reeds op 10 April 2026 gesluit het sonder dat die publiek ’n regverdige kans gegun is om die waardasies te betwis.
Hoewel die munisipaliteit aanvoer dat die maatskappy wat met die waardasies handel 22 000 van die 27 000 huishoudings besoek het, het die meeste inwoners aangedui dat niemand hul eiendom besoek het nie.
Plaaseienaars is dit ook eens dat hulle geen besoek rakende waardasies ontvang het of dat enige reëlings vir besoeke getref is nie.
Die nuwe waardasies toon ‘n gemiddelde afwyking van 50% op die vorige waardasierol en die VF Plus wil graag weet wat die grondslag van hierdie waardasies vorm aangesien ʼn foutiewe waardasierol groot implikasies inhou vir inwoners en die munisipaliteit self.
ʼn Oorverhaling weens buitensporige waardasies hou enorme onkostes vir huishoudings, fabrieke en die landboubedryf in.
Onderverhaling kan weer ‘n negatiewe invloed op die munisipaliteit se kontantvloei hê. Verder hou dit ook uitgebreide probleme in vir eienaars wat hul eiendomme wil verkoop.
Geen bevredigende antwoorde hieroor kon in die raadsvergadering verskaf word nie. Die hoof finansiële beampte het wel erken dat probleme ervaar word.
Die VF Plus teken ernstige beswaar aan teen die eensydige optrede van die raad wat die publiek, ondernemings, fabrieke sowel as die landboubedrywe benadeel. Die party versoek die Langeberg-munisipaliteit om die proses te hersien en die beswaartydperk te heropen sodat ’n deursigtige en wetlik korrekte waardasierol uitgereik kan word.


