Die VF Plus is bekommerd oor die optrede van die speaker van die Tshwane-metroraad, Mncedi Ndzwanana, wat na bewering reëls buig om die regerende koalisie te akkommodeer.
Hierdie optrede het daartoe gelei dat die VF Plus se deelname aan ’n belangrike debat oor die sinkgatkrisis in die metro summier beëindig is.
Hoewel die party bereid was om die vertraagde verslag oor sinkgate tydens die raadsvergadering te steun, is ’n wysiging wat al 63 sinkgate in die verklaring van ’n plaaslike ramptoestand sou insluit, afgekeur.
Dit is onlogies en onaanvaarbaar om slegs een sinkgat as ’n ramp te verklaar terwyl die res geïgnoreer word.
Die VF Plus hou vol dat die Tshwane-metro ‘n reaktiewe munisipaliteit is sonder ‘n gevoel van dringendheid.
Volgens die metro se eie data is 88% van die sinkgate die gevolg van vervalle water-, riool- en stormwaternetwerke wat ’n direkte gevolg is van jare se nalatigheid.
Die bestaande waterstelsel, wat steeds op asbespype steun en gemiddeld tussen 55 en 60 jaar oud is, het sy tegniese leeftyd lank reeds oorskry.
Die VF Plus sal nie wag tot hierdie verval tot lewensverlies lei voordat daar opgetree word nie.
Gesprekke sal voortgaan om te verseker dat alle sinkgate ingesluit word in die verklaring van ’n ramptoestand, met spesiale aandag aan die Cliftonlaan-gebied. Hierdie sinkgat bedreig kritieke infrastruktuur, insluitend ’n Rand Water-pypleiding en Eskom-kraglyne. Die herstel daarvan sal na raming R50 miljoen beloop.
Die VF Plus beplan om ’n versoekskrif met 3 500 handtekeninge aan die nasionale rampbestuursentrum te oorhandig, met die doel om ’n provinsiale ramptoestand af te kondig en sodoende toegang tot verdere befondsing te verkry.
Die party sal ook aanhou om die uitvoerende burgemeester, dr. Nasiphi Moya, te monitor en aanspreeklik te hou om deursigtig en eerlik met inwoners van die metro om te gaan.
Deursigtigheid en eerlikheid teenoor die inwoners van Tshwane is nie onderhandelbaar nie.


